“Lolla! Lolla!” roep Dokter Wilna. “Word wakker, jou slaapkous!” Lolla maak haar oë op klein skrefies oop. Sy wonder waarom skree Dokter Wilna so. Haar kop wil bars van die pyn. Sy voel glad nie lekker vanoggend nie. Sy maak haar ogies toe en kreun.
“Lolla?” vra Dokter Wilna bekommerd, “wil jy nie vanoggend wegkruipertjie speel nie?” Dokter Wilna weet dat wegkruipertjie Lolla se gunsteling speletjie in die hele wye wêreld is. As Lolla nie wil speel nie, is daar groot fout.
Dokter Wilna druk haar hand teen Lolla se pensie.
“Ag, siestog,” sê Dokter Wilna. “Lolla, jy is seker siek. Jou hele lyfie bewe.” Dokter Wilna gooi Lolla se sagte kombersie oor haar. Sy streel Lolla se kop.
“Toemaar, Lolla,” sê Dokter Wilna, “gelukkig kom Christina vandag. Sy sal mooi na jou kyk.”
Christina sing terwyl sy die huis skoonmaak, maar sy kom kyk kort-kort hoe dit met Lolla gaan. Sy dra water aan, maar Lolla wil nie drink nie. Sy dra melk aan, maar Lolla wil nie drink nie. Sy dra tee aan, maar Lolla wil nie drink nie. Lolla wil NIKS drink nie. Christina is bekommerd.
Christina bring vir Lolla ‘n broodjie, maar Lolla wil nie eet nie. Sy bring ‘n stukkie biltong, maar Lolla wil nie eet nie. Sy bring ‘n bakkie sagte maalvleis, maar Lolla wil nie eet nie. Lolla wil NIKS eet nie. Nou is Christina sommer baie bekommerd. Sy bel vir Dokter Wilna.
“Dokter Wilna,” sê Christina, “jy moet NOU huis toe kom en vir Lolla kom dokter!”
“Ek kan nie, Christina,” sê Dokter Wilna. “Ek is ‘n mensedokter, nie ‘n dieredokter nie. Ek sal haar vanmiddag na die veearts toe vat. Hy sal haar kan help.”
“Lolla wil niks eet nie,” sê Christina. “Sy wil ook niks drink nie. Haar lyfie bewe nou en netnou is sy weer vuurwarm. Ek dink sy het kouekoors.”
“Toemaar, Christina,” sê Dokter Wilna. “Ek kom so gou as wat ek kan.”
Daardie middag kom Dokter Wilna sommer vroeg van die werk af. Lolla voel so siek en sleg dat sy sommer haar ogies toe hou. Sy waai nie eers haar stertjie toe sy vir Dokter Wilna hoor nie. Dokter Wilna tel vir Lolla op en dra haar na die kar toe.
Die gawe veearts is ook ‘n dokter, maar hy is ‘n dieredokter. Sy naam is Dokter Sakkie.
Hy tel vir Lolla bo-op sy ondersoektafel. Sy hande is koel op Lolla se warm lyfie.
“En nou, Lolla?” vra Dokter Sakkie. “Waarvan is jy nou so siek?”
Lolla se bene voel te swak om te staan. Sy gaan lê sommer op die lekker koel ondersoektafel. Toe word sy naar. Arme Lolla kry baie skaam, maar Dokter Sakkie is baie gaaf.
“Toemaar, Lolla,” sê Dokter Sakkie. “Ek gaan jou ‘n inspuiting gee wat jou gou sal laat beter voel.”
Dokter Sakkie kyk in Lolla se bek.
“Hmm,” sê hy.
Hy neem haar temperatuur.
“Hmm,” sê hy.
Hy kyk na haar oë.
“Hmm,” sê hy.
Dokter Sakkie sê Lolla het bosluiskoors. Omdat sy die hele dag nie geëet of gedrink het nie, is sy nou baie swak. Hy sê Lolla moet in die dierehospitaal bly tot die volgende dag.
Die verpleegster skeer ‘n bietjie van Lolla se mooi bruin haartjies op haar voorpoot af. Sy steek ‘n naald in Lolla se voorpoot in en sê dis aarvoeding met medisyne in. Toe dra sy vir Lolla na ‘n hokkie met ‘n lekker sagte kombers.
“Lekker slaap, Lolla,” sê die verpleegster. “Môre sal jy beter voel.”
Vroeg die volgende môre kom Dokter Sakkie kyk hoe dit met Lolla gaan. Lolla lig haar kop effens op en waai haar stertjie effens. Sy voel nog baie swak en bewerig.
“Lolla,” sê Dokter Sakkie, “jy moet nog vandag hier in die dierehospitaal bly. Bosluiskoors is ‘n ernstige siekte en jy moet rus. Dokter Wilna kan jou vanmiddag na werk kom haal.”
Dokter Wilna en Lolla is baie bly om mekaar weer te sien. Lolla voel nou al baie beter. Sy is selfs ‘n bietjie honger.
“Baie dankie, Dokter Sakkie,” sê Dokter Wilna. “Jy het Lolla se lewe gered. Jy is my held!”
Lolla lek Dokter Sakkie se hand om dankie te sê. Toe ry Lolla en Dokter Wilna huis toe, waar Christina se lekker kos vir hulle wag.
Daardie aand droom Lolla sy is ‘n held.