Ek het in ‘n pioniersamelewing grootgeword en leesstof was skaars, beide in ons huis en die plaasskooltjie. Een van die eerste boeke wat ek uitgeneem het toe ek in die hoërskool aankom, was Heidi. Dit was in Afrikaans vertaal, maar ek het nie geweet of omgegee nie, ek was so meegevoer. In die week het ek altyd by my ouma tuisgegaan, maar naweke het Pa my kom haal. Op hierdie Vrydagmiddag het hy by bekendes aangegaan, maar ek wou nie uit die voertuig klim nie, het soos ‘n besetene aangehou met lees en omblaai. Hierdie sprokiesagtige verhaal uit die Switserse Alpe was vir ‘n dertienjarige dogter die hoogste vorm van betowering.
Sedertdien het ek baie boeke gelees, en self geskryf ook. Nie een van hulle kan egter aan my doen wat Heidi reggekry het nie: om my heeltemal weg te voer uit my bekende lewe op die rand van die Kalahariwoestyn langs die Oranjerivier.
Weg, na ‘n oord waar spierwit sneeu bankvas lê, waar bokklokke dof teen die steil hellings lui, waar ‘n vrolike dogtertjie op ‘n strooibed in die solderkamer slaap.
Nooit, o nooit, sou my eie bed so sag kon wees, my eie lewe so betowerend vreemd nie.
Heidi, hoe kan ek jou ooit vergeet?