Ek het vir Zane gesê dis ‘n simpel idee om vir Mozart lipstick aan te sit.Oukei, dit sou seker actually snaaks gewees het, as ons nie uitgevang is nie. Die hele ding het begin met die lipstick wat hy vanoggend voor skool opgetel het. Revlon Passion Fruit. Bloedrooi. Ek sien al heeldag hy probeer aan iets dink om daarmee aan te vang.
Toe die klok lui vir tweede pouse, keer juffrou Pienaar my voor en vra of ek gou vir meneer Marx ‘n koevert sal gee. Meneer Marx is die musiekonderwyser. Sy klas is op die punt van die ry buitenste klasse, seker sodat die musieklesse nie die res van die skool teen die mure moet uitdryf nie.
“Kan sy nie haar eie liefdesbriewe aflewer nie?” brom Zane.
Dis een van die skool se legendes – hoe meneer Marx en juffrou Pienaar mekaar een aand gesoen het toe hulle moes toesig hou by ‘n skoolsokkie. Daar is al soveel weergawes van die storie dat niemand meer weet wat die waarheid is nie, en daar was soveel “ooggetuies” dat dit wraggies nie ‘n baie private smooch kon gewees het nie.
Ek klop aan meneer Marx se deur. Geen antwoord nie. Ek loer deur die venster. Die klas is leeg.