Permanente ink

Permanente ink

Carina Diedericks-Hugo
LAPA

DIE OGGENDBLAD

Romeo-en-Juliet-reeksmoordenaar slaan weer toe VERSLAGSPAN

Kaapstad

Die sogenaamde Romeo-en-Juliet-reeksmoordenaar het weer toegeslaan.
Die 16-jarige Michelle van der Merwe van Seepunt en haar 17-jarige kêrel, Johannes Harmse, se lyke is gister teen die hange van Tafelberg gevind. 
Volgens die polisie het stappers, wat anoniem wil bly, ongeveer 16:00 op die grusame vonds afgekom. 
Me. Van der Merwe het ‘n steekwond in haar bors gehad wat moontlik tot haar dood gelei het. Na bewering is daar nie ooglopende beserings aan mnr. Harmse gevind nie. Die polisie het aangedui dat ‘n verklaring uitgereik sal word sodra die nadoodse ondersoek afgehandel is. Hulle kon nog nie bevestig dat die moord die werk van die Romeo-en-Juliet-reeksmoordenaar is nie. Die Romeo-en-Juliet-reeksmoordenaar teister Kaapstad en die omliggende suidelike voorstede reeds die afgelope vyf maande. Ses tieners, almal paartjies tussen die ouderdomme van 15 en 18, is op dieselfde gru-manier vermoor. Die meisies is met ‘n noodlottige steekwond in die bors gevind en die seuns is met ‘n onbekende mengsel vergiftig. Die lyke is langs mekaar neergelê en hul hande is post mortem inmekaargevleg. 
Polisiekommissaris Jakes Tshabalala het gesê die polisie doen alles in hul vermoë om die reeksmoordenaar vas te trek. Hy het ouers gewaarsku om te alle tye bewus te wees van hul tieners se bewegings. Skole moet ‘n beroep op hul leerders doen om weg te bly van afgeleë plekke af. 
Enigiemand met inligting kan inspekteur Liebenberg van die Mouillepunt-polisiestasie kontak.

lusmakers
0
Would love your thoughts, please comment.x