Dit vat guts

Dit vat guts

Annalie Ferreira
Human & Rousseau

Ek het dit glad nie verwag nie. Dis ’n snikwarm somermiddag in die Kaap toe ek en Isabel huis toe swoeg van die skool af met ons boeksakke wat stamp op ons rue.
Die straat koes vir die son. Gordyne is toegetrek, blomme druk hulle koppe onder hulle blare in en nie ’n enkele hond bestorm ’n tuinhekkie nie, nie eens die twee Jack Russells in die siersteenhuis by wie ’n spook normaalweg nie sal kan verbysluip nie. Onder ons voete is die gras droog en geel.
’n Ou met ’n matriekbaadjie brul op sy motorfiets verby en blaas ’n wolk  uitlaatgas in ons gesigte.
“Dude! Koolstofvoetspoor!” spoeg Isabel agter hom aan terwyl sy dampe wegwaai.
“Sou Pa vandag dokter toe gegaan het?” vra ek. “Hy en Ma het iets gepraat daarvan vanoggend.”
Isabel frons. “Griepinspuiting? Jy weet hoe is Ma, dis nog Maart dan dink sy al aan sulke goed.”
“Dalk, ja.” Ek lig my poniestert om my nek te probeer afkoel. Vir die laaste twee straatblokke stry ons oor wat die lekkerste is om te drink, koeldrank, milkshake of smoothies. (By die huis sal net boring vrugtesap wag, en natuurlik Ma se gunsteling, heerlike-water-uit-die-kraan.)
’n Witkopdogtertjie en Maltese poedel verwelkom ons by die voordeur. Tes swaai ’n halwe sny pizza rond. “Kyk wat het Ma gekry!” Rakker slaan omtrent agteroor bollemakiesie soos hy ’n happie probeer score.
Yum, ons kry nie sommer pizza in die week nie.

lusmakers
0
Would love your thoughts, please comment.x