Pretoria is miskien mega-groot en die administratiewe hoofstad van ons land, maar dat ons hier meer kwaliteit gesinstyd saam kan hê is ʼn totale myth. Hier gaan die lewe oor wie die meeste geld het, wie se vrouens fashion sense het en wie se kinders die grootste brats is.
Ek wou ook nog sê dat ons soos in glad nie hier gaan inpas nie. My ma se kleresmaak is so negentiende-eeus. My pa is so suinig met sy geld dat ek soms dink ons is op die randjie van bankrotskap. En ek? Wel, ek is so ver van bederf af, dit is nie eens meer snaaks nie. Maar toe sien ek Pa knip skaars sy oë. Dit is amper asof hy nie eens na my gekla luister nie. Hy staan net hande gekruis oor sy bors en kyk strak hoe die laaste meubels by ons huis ingedra word.
Dit is laatmiddag en die treklorrie in straat begin hoes sodat die petroldampe my asem wegslaan. “Platteland Vervoer” staan groot in roesbruin oor die lorrie se staalblou kante geskryf. Ek knip my oë ʼn paar keer om te keer dat die trane in die hoeke van my oë opdam. Moet ek nie dalk ʼn tantrum gooi nie. Of so hard skree soos ek kan nie? Of dalk kan ek iewers magic doepa kry wat my sal laat verdwyn.
Hier staan ek voor ʼn nuwe huis, in ʼn nuwe straat met die vooruitsigte van ʼn nuwe skool in hierdie wildvreemde stad. Gaan enigiets hiervoor help?