Lusteloos stap ek met die loopgang langs. In die deur steek ek vas. Misnoeg staar ek na die fossiele op Vlug 593 van Johannesburg na Nairobi. Waar het hulle al die oumense gavang? Dink net hoe cool gaan dit wees om die hele ent pad langs een te moet sit.
Eintlik moet daar ‘n wet wees teen oumense, ‘n soort afsnypunt, die wêreld is klaar oorbevolk en mense word net al hoe ouer. Iewers het ek gelees in 1870 het mense gemiddeld skaars veertig geword.
Ek meen véértig! Wie wil in elk geval veertig wees?
“Kan hulle beweeg daar voor?” roep ‘n stem agter my.
Ek kry ‘n stootjie in die rug en die lugwaardin beduie na die gangetjie. Met my oë op die sitpleknommers teen die dak, volg ek die skuifelende passasiers. Wat wil die spul kadawers tog in Nairobi gaan maak?
Nou weet ek!
Iewers het Pa iets geskryf oor twee groot konferensies van paleontropoloë vanoor die hele wêreld. Die eerste was glo in Johannesburg, waarna almal na Nairobi sal verskuif. Pa se e-posse is net so interessant. Teen dié tyd weet ek allerhande useless goed, soos dat ‘n paleoantropoloog iemand is wat versteende geraamtes opgrawe, iemand met ‘n onnatuurlike belangstelling in ou, dooie goed.