“Graadtwaalf, sal jy die liefde van jou lewe met die dood dreig as hy of sy nie jou liefde kan beantwoord nie?”
Juffrou Scarlett R. Reynolds kyk na hom terwyl sy die vraag vir die klas vra, maar die kilheid in haar andersins warm, bruin oë laat Peet Rautenbach voel sy stel slegs in sy antwoord belang. Sy staan so naby hom dat hy die wilde polsslag in haar nek kan sien, ook die voglagie op haar sensuele lippe. Die ronding van haar bors in die half-deursigtige sigeunerrokkie laat hom na ‘n stukkie houtskool en skilderkwas verlang.
komaan peet sys al in jou gesig burp as jy vir haar sê hoe jy oor haar voel
Dis nie ‘n helder stem nie. Dis eintlik geen stem nie. Tog ken Peet die stem al sy lewe lank. Hy verstel aan sy skooldas. Dis ‘n drukkende warm somersdag. Boonop wurg die das hom en broei sy lyf in die verpligte langbroek en leerlingraadbaadjie.
Die veelkleurige rokkie hip-hop om haar knieë toe sy na die tafel voor in die klas loop. Die fyn stringe klokkies klingel met elke tree om haar heupe. By die tafel swaai sy om. Haar koringblonde kartels swiep om haar gesig.
“Julle het seker almal hierdie berig in gister se Burgergesien.” Sy skakel die dataprojektor aan.
Teen die wit skerm verskyn die opskrif: NOG ‘n BLONDE STUDENT VERDWYN.
“Wat dink julle het van haar geword?” vra juffrou Reynolds. Sy flits ‘n paragraaf teen die wit skerm: Chanté Locke.