Dit was die jaar 1965. My jaar van groot drome, groot liefde, groot hartseer. Elvis se “Suspicious Minds” op die draadloos. Stokkiesbeenkinders wat speel met wat hulle ook al kan kry: blikkies, gebreekte glas, ’n ou bottel. Bedelaars, smouse, rondloperhonde. Distrik Ses!
Wasgoed wat in kleurpatrone oor balkonne hang, die aromas van kerrie en samosas uit Moraad se windel, ’n mengelmoes gesigte wat in elke denkbare geur en kleur, my ooraktiewe verbeelding tot raserny prikkel. En dis asof ek myself nog op die randsteen voor ons skakelhuis met my alewige skryfboek kan sien sit.
Die groot sloping is net nog ’n bang vermoede, en die strate beier met klanke, kleure en geure. ’n Langbeenmeisiekind speel hopscotch, buk vooroor om haar merker op te tel en sien vir ’n rukkie die wêreld onderstebo: wasgoed wat die blou lug vlek, ’n bars in ’n witgekalkte muur, haar pa se skoene wat sleep in die stof, die vreemde wit seun, Benjamin…
Daardie kind is nou vrou, en met die afstand van tyd probeer sy haar wêreld weer op sy voete kry.