Eerste soen

Monoloog – Hoërskool
Carien Wassermann
Graad 10 dogter. Sy is verlief en sy wil graag haar eerste soen hê maar dink sy is te lelik omdat sy baie sproete het.
Ouderdomsgroep: 15+
Karakter: Graad 10 dogter. Sy is verlief op ‘n ou met die naam Chris. Sy wil graag haar eerste soen hê maar dink sy is te lelik omdat sy baie sproete het. Sy sit op haar bed met haar slaapklere aan en kyk rond op “Facebook” op haar foon.
Stel: Slaapkamer. Kombers en kussing gegooi om soos ‘n bed te vertoon met teddiebeer; ‘n tafetljie met bedlampie en ‘n skootrekenaar of ‘n tablet. ‘n Spieël teen haar muur en grimering. Boks met klomp klere om aan te pas – sommer bo-oor mekaar.

Eerste soen

(Kom in en gaan sit op die bed. Sy haal haar foon uit en begin op die foon rond te speel.)

Geluk! Nog ‘n meisie het haar eerste soen gekry voor sy sestien is! Ek verstaan in elk geval nie wat die groot storie daarvan is nie. Dis maar net ‘n ou simpel soen.

(Kyk weer op haar foon en trek ‘n gesig)

Lida reken sy is nou so groot omdat Jan haar gesoen het, voor sy sestien geword het. Wie gee in elk geval om? Niemand wil op “Facebook” gaan en lees hoe romanties dit was nie. Jig! Hoekom kon ek nog nie my eerste soen kry nie. Is ek dan so lelik?

(Staan voor spieel en kyk vir haarself)

Ek weet ek is seker nou nie die mooiste meisie in die kontrei nie, maar daar moet tog seker iemand wees wat van ‘n meisie met sproete hou? Nie almal is mooi blondines soos Lida nie. Wat moet ek doen dat Chris in my belangstel sal stel en dalk my eerste soen vir my sal gee? Dalk kan ek hulp op die internet kry.

(Skakel rekenaar aan.)

Ek wonder watter webadres moet ek intik om raad te kry. Kom ek probeer maar “Steps to get your first kiss”.

Dit is so interessant. Hierdie stappe kan seker nie so moeilik wees om te volg nie.

Stap 1: Maak jouself soenbaar

Soenbaar? Hoe doen mens dit?

(Staan op en gaan staan voor die spieël met grimering. Vat die lipstiffie en sit dit aan haar volronde lippe aan. Heeltemaal oordadig en maak haar lippe tuit.)

Hierdie is my soenbare lippe. Wonder of dit nou sal maak dat Chris my sal wil soen. Dalk sal bietjie “foundation” en “mascara” help om my mooier en meer “kissable” te maak. Ek lyk nou meer soos ‘n hanswors. G’n wonder Chris wil nie vir my kyk nie.

Stap 2: Skimp dat jy ‘n soen wil hê en maak oogkontak.

Goed, ek sal dit op my teddiebeer oefen. Kan nie so moeilik wees nie.

(Vat die teddiebeer en bring hom nader aan haar gesig en dan weer verder en maak haar lippe tuit asof sy vir hom kyk en hom wil soen.)

Ek weet nie wat met my aangaan vandag nie. My lippe voel dood, ek moes heeltyd lipoefeninge doen. Jy het die mooiste oë, ek sien dit nou eers van naby af.

Nee vrek, dalk skrik ek hom so af dat hy nooit weer sal herstel nie. Kom ons kyk liewer wat die volgende stap is.

(Gaan sit weer by rekenaar en lees die volgende stap)

Stap 3: Nooi hom om jou te soen.

(Vat die teddiebeer)

Hallo, Chris hoe gaan dit vandag? Jy weet jy is welkom om my te soen. Enige dag, enige tyd maar hopelik voor die sewende van Junie.

Weet darem nou nie of dit so goed sal gaan nie? Is daar dan geen stap wat makliker kan wees nie?

(Lees weer op rekenaar)

Hierdie een klink beter

Stap 4: Kry die regte uitrusting.

(Staan op en gaan staan by boks met klere voor die spieël)
Hierdie pienk Barbie-hemp sal mooi gaan saam my oranje sweetpakbroek. Dis perfek ek dink dit gaan my soen-uitrusting wees. Nou nog net die grimering en die bloedrooi “lipstick” en ek sal reg wees.

Wat is die laaste stap wat ek moet volg?

(Lees op rekenaar)

Stap 5: Kry die regte plek.

Waar sal die perfekte plek wees? Ek reken agter die pawiljoen sal perfek wees, maar die ander probleem is om hom daar te kry? Dalk kan ek hom ontvoer want hy sal nie saam my soontoe gaan uit vrye wil nie.

(Staan voor spieel en kyk na haar girmering, hare en klere)

Ek hoop maar ek het die stappe reg verstaan en gevolg dat ek darem my eerste soen more by die skool kan kry. Ek bedoel, kyk net my mooi rooi soenbare lippe.

(Tuit haar lippe wild in die spieël)

More is die dag! Ek is seker daarvan my plan is perfek. Ek gaan vir hom vra om my asseblief te kom help om oefenapparate uit die stoorkamer agter die pawiljoen te gaan haal en dan, dan gaan ek hom nooi om my te soen … en hopelik gebeur dit. Ek is so positief my plan gaan werk, ek bedoel ek kon nie ‘n beter hemp en broek saam kies nie en ek is seker my lippe gaan sy aandag trek.

(Trek klere uit wat bo-oor slaapklere is en klim in haar bed met haar slaapklere)

Ek gaan more my eerste soen kry! Net soos Lida en dan gaan ek ook kan sê ek is “sixteen and already been kissed”. Ek kan nie wag dat more kom nie.

(Lê met haar kop op die kussing maak haarself toe en skakel die bedlampie af)

Carien Wassermann
Die monoloog is geskryf deur Carien Wassermann. Carien is ‘n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2016.
2015-06
Kopiereg Carien Wassermann

As jy dié stuk wil opvoer, stuur ‘n versoek aan kollig@storiewerf.co.za
met jou naam, ouderdom, die titel, en waarvoor jy dit wil gebruik.

0
Would love your thoughts, please comment.x