Vir Sharon

Monoloog – Hoërskool
Chané Jonker
Sharon is 'n kunstige meisie wat van kleins af 'n boek wat sy saam met haar dra. Sharon was 7 jaar oud toe sy haar pa verloor het en probeer om te verstaan wat gebeur het.
Ouderdomsgroep: 15+
Karakter: ‘n 16-jarige meisie, Sharon. Sharon is ‘n kunstige meisie wat die wêreld uit die oogpunt van ‘n skrywer sien. Sy het van kleins af ‘n boek wat sy saam met haar dra. In hierdie boek skryf sy al haar goeie dae in ‘n lys neer. Sharon was 7 jaar oud toe sy haar pa verloor het en probeer om te verstaan wat gebeur het.
Stel: Die verhoog word so oop as moontlik gehou om Sharon die fokuspunt te hou. Aan die linkerkant van die verhoog staan daar ‘n bankie met haar boek van goeie dae op. In die middel is daar ‘n grafsteen wat half na die gehoor gedraai is. Op die grafsteen is daar ‘n bos rose.
Rekwisiete: Bankie, boek, grafsteen en ‘n bos rose.

Vir Sharon

(Die verhoog se ligte gaan aan. Sharon sit kruisbene op die bankie en blaai deur ‘n boek. Sy giggel terwyl sy na een van die bladsye kyk en lig haar kop sodra sy begin praat)

Hierdie boek dra ek al vir jare by my, dit is ‘n lys van al my goeie dae. Van die dag wat my ma vir my my eerste balletskoene gekoop het, tot die dag wat my ouma my leer brei het. Ek is seker dat ek op my laaste dag, voor my laaste asem uitgeblaas word, ten minste ‘n kans sal kry om vlugtig deur die boek te blaai. Dan sal ek gelukkig wees om my finale tree oor te gee na die ander kant toe.

(Blaai verder deur die boek tot by die middelste bladsy)

Maar ongelukkig bestaan my boek nie net uit goeie dae nie, want daar is een dag wat ek nie met sekerheid onder die kategorie van ʼn goeie dag kan plaas nie. Gedeeltelik was dit ‘n goeie dag en gedeeltelik was dit ‘n slegte dag. Sien, dit is al herinnering wat ek van my pa het. Wag, (staan op) dalk moet ek eers die storie vertel. 
Al wat ek kan onthou is dat my pa elke dag na werk vir my ‘n pakkie Jelly Tots en ‘n beertjie, wat hy by die masjien buite Spar gevang het, saamgebring het. Hy het dit geruil vir my nuutste krytkunswerk waaraan ek heeldag by die kleuterskool gewerk het. Hy het my dan opgetel en my vertel dat ek eendag ‘n wêreldberoemde kunstenaar gaan word. Wie weet, dalk is die kunstewêreld nog my voorland. My krytkunswerk het bevorder na potloodportrette. Maar eers terug na my storie toe.

Die een dag het alles verander. My pa het, soos gewoonlik, laatmiddag by die huis aangekom, maar dié keer het ek nie ‘n pakkie Jelly Tots en ‘n beertjie gekry nie. My pa het een van die grootste bere wat my klein 7-jarige ogies nog ooit gesien het in my hande geprop. Dit was nie eers nodig om my krytkunswerk te ruil nie.

“Ek is jammer,” het hy gesê. Jammer vir wat? het ek gewonder. Hy het ‘n klapsoen op my voorkop geplaas en my vertel hoe lief hy vir my is. Op daardie oomblik was ek so gelukkig as wat ‘n 7-jarige meisie kan wees. Dit was ‘n goeie dag.

(‘n Lig gaan aan wat die graf onthul. Sharon stap nader en tel een van die rose wat op die graf lê op)

Maar dit was Pa se laaste dag. So sê my asseblief, in watter kategorie plaas ek daardie dag?

(Begin die roos se blare een vir een pluk)

Dit was ‘n goeie dag, dit was ‘n slegte dag, dit was ‘n goeie dag, dit was ‘n slegte dag, (herhaal die woorde tot by die laaste blaar)… Dit was ‘n goeie dag.

(Gooi die blom neer en raak kwaad)

Simpel van my om te dink dat ‘n blom my besluite kan neem, want  Pa het daardie besluit geneem die oomblik toe Pa die sneller getrek het.

Hoe vertel jy vir jou kind dat Pappa nie meer daar is nie? Gelukkig was dit nie nodig nie, want my ma se trane het dit aand na aand bevestig. Vir jare het ek gelieg en vir almal vertel dat dit ‘n karongeluk is wat Pa weggevat het. (Harder as voorheen) Op slag dood, is hoe ek dit beskryf het. Ek kan ‘n boek skryf oor al die leuens wat ek vertel het oor ‘n pa wat nooit bestaan het nie, maar ek kan net ‘n paragraaf skryf oor  ‘n pa wat wel bestaan het. Pa het my nooit die kans gegee om eers ‘n hoofstuk op papier neer te lê nie.

Hoe beskryf ek Pa?

Selfsugtig. Nee, nie Pa nie, ek. Om Pa te verwyt omdat Pa nie nog langer kon vasbyt nie. Ek het myself die skuld gegee, was my krytkunswerke dan nie goed genoeg nie? Dink vir jouself, ‘n 7-jarige wat haarself skuldig bevind aan moord. Vertel my asseblief hoe regverdig is dit?

Toe ek ouer word het ek gedink ek verstaan. Hy is ‘n lafaard, het ek altyd vir my ma gesê. Sy het altyd gestry en gesê Pa was sterk, maar na ‘n ruk was sy moeg en het sy net weggekyk as daardie woorde oor my tong rol.

As ek maar net geweet het hoe moeg Ma werklik was.

Hoe beskryf ek Ma?

‘n Moordenaar. Nee, nie Ma nie, die wêreld. Ma is nutteloos verniel deur verlange. Pa was nie meer daar nie en skielik moes Ma alleen na my kyk. Die wêreld het my by Ma se voete neergegooi en die geweer saggies in Pa se handpalms neergelê.

Kan iemand dit asseblief vir my verduidelik, want ek dink nie ek sal ooit verstaan hoekom Pa nie meer hier is nie. Al wat ek verstaan is die krete van verlange wat ek elke nou en dan uit Ma se slaapkamer hoor. Al wat ek verstaan is die pyn wat elke dag onder my vel kriewel.

Ek is seker alles sal eendag sin maak, maar vir nou is daar net die verlange na ‘n vreemdeling. Die verlange na ‘n Pa wat ek net vir ʼn paragraaf lank geken het.

(stap terug, gaan sit op die bankie en blaai terug in die boek. Vir ʼn oomblik is daar stilte terwyl sy begin skryf)

Dit was ‘n goeie dag, want dit was die enigste dag. Dalk word elke goeie dag nie beskryf met glimlagte en geluk nie maar met seerkry en herinnering. As iemand my weer vra oor Pa sal ek vir hulle vertel dat Pa meer is as ‘n paragraaf. Pa is in die ink in my pen en die gids vir elke woord wat ek neerlê op papier.

(Sharon maak die boek toe en die ligte gaan af. Die lig oor die bank gaan eerste af, maar die lig bo die graf bly vir ‘n oomblik alleen aan sodat dit die fokuspunt van die verhoog word)

Chané Jonker
Die monoloog is geskryf deur Chané Jonker. Chané is ‘n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2016.
2016-07
Kopiereg Chané Jonker

As jy dié stuk wil opvoer, stuur ‘n versoek aan kollig@storiewerf.co.za
met jou naam, ouderdom, die titel, en waarvoor jy dit wil gebruik.

0
Would love your thoughts, please comment.x