Martie Preller

Martie Preller

Martie Preller se lyf is in Potchefstroom gebore - haar kop/siel/gees swerf orals rond - ook in haar stories.

Ek is op Potchefstroom gebore – altans – my lyf is daar gebore en het daar grootgeword. Mens se kop/siel/gees – dit of wat jou ook al uniek jy maak, swerf mos maar orals rond – deur al die boeke wat jy lees – deur al die mense se lewens wat jy ken en ontmoet en van hoor, deur alles wat met jou gebeur en wat jy laat gebeur, waar jy is en nie is nie.

Ek het op Potch tale geswot en ‘n onderwysdiploma en gaan skoolhou. Hoofsaaklik Latyn gegee, maar ook Engels. Ek is getroud, het drie kinders gehad en is geskei. Soms word wat lyk soos ‘n doodloopstraat ‘n baldadige hartpad. Ek begin daar êrens by 40 jaar skryf – wat ek nog altyd wou doen en te bang was om te probeer. (Eers swot ek Sielkunde – want sê nou ek kan nie skryf nie? Is ek nou mal om te dink ek kan skryf ‘n lewe maak?)

My kinders en kleinkind (gebore: 1974, 1976 ,1978 en 2004) is vir my ‘n heerlikheid. Augustinus het gesê die liefde is soos ‘n klip: dit hou jou op die grond. Kinders is soos klippe. Hulle hou jou op die grond, anker jou in die lewe self. Dis ook een van die redes waarom ek hoofsaaklik vir kinders geskryf het en nog skryf. Kinders is plat op die aarde, nie êrens op ‘n plek waar hulle dink hulle behoort te wees nie, en hulle weet nog dat hulle vlerke het. Ons is aardsgebonde, maar ook onbeperk, dink ek.

Ek het ‘n wye verskeidenheid goed geskryf. Meeste is gepubliseer, maar ek het ook ‘n laai vol van daai soort skryfsels wat mens nie mee raad het nie en ook nie wil laat gaan nie.

Curriculum vitae? Die verloop van ‘n lewe? Met die klem op loop. Ons reis deur ‘n lewe en boeke is net reisjoernale van plekke waar ons was en wat ons deel met ander medereisigers.

Skoolopleiding

Laerskool Mooirivier en Hoërskool Gimnasium op Potchefstroom

Akademiese kwalifikasies

  • 1969: BA (cum laude) Hoofvakke: Engels en Latyn Potchefstroomse Universiteit
  • 1970: Universiteitsonderwysdiploma (cum laude) Potchefstroomse Universiteit
  • 1988-1990: Sielkunde I, II en III (cum laude) UNISA
  • 1991: Honneurs Sielkunde (cum laude) RAU

Onderwyservaring

1971-1972: Hoërskool Gimnasium, Potchefstroom (Latyn & Engels)
1973: Hoërskool Fakkel, Johannesburg (Latyn & Engels)
1974: Hoërskool Randburg, Randburg (Engels) (een kwartaal) 
Privaat Engels- en Latynklasse

Huidige beroep

Professionele Skrywer. Ek werk tans (Nov. 2004) aan die draaiboeke vir ‘n storiereeks vir kinders, Dokotela Papalela , vir SABC 2 in opdrag van Sonneblom Films en in samewerking met Katinka Heyns, Tobie Cronje en Piet Grobler.

Skryfkursusse

Korrespondensie-Skryfkursus

In Februarie 2000 het ek ‘n skryfkursus gekonseptualiseer vir aspirant-skrywers in alle genres. Die kursus het sentreer rondom die maak van ‘n storiekern wat aangepas kan word om aan die vereistes van enige genre, hetsy prenteboeke, jeugverhale, draaiboeke of watter genre ookal te voldoen

Die Korrespondensie-Skryfkursus (via e-pos, faks of slakkepos) het beskik oor verskeie modules wat studente teen hulle eie pas kon voltooi. Studente het persoonlike terugvoering en aanmoediging na die voltooiing van werkopdragte gekry.

Dit was uiters prakties en gemik daarop om iemand aan die skryf te kry en aan die skryf te hou. Dit het ook geleentheid vir selfontwikkeling en die ervaring van kreatiewe skryf as selfterapie gebied.

Een- of Tweedagse-storiemaakwerkswinkels

Gedurende 2000-2001 het ek ook persoonlike en interaktiewe storiemaakwerkswinkels vir Afrikaanse en Engelse aspirant skrywers regoor die land aangebied. Hierdie werkswinkels het gekonsentreer op die kern van die inhoud van die Korrespondensieskryfkursus, naamlik dat die skrywer gesien word as die bron van sy/haar eie stories en daarom het dit ook moontlikhede tot selfverkenning en die ervaring van die terapeutiese waarde van skryf gebied.

Die terugvoering van persone wat die kursus en die werkswinkels meegeloop het, was besonder positief.

In 2003 loop my ervarings van skryf en die deel daarvan met ander via die internetkursus en die werkswinkels uit op die publikasie van Eendag was daar ‘n storie – ‘n praktiese storiemaakkursus(Tafelberg)

In 2009 publiseer ek Die land van stories – ‘n praktiese storiemaakkursus – Vir almal met ‘n liefde vir stories wat die nuwe en verbeterde weergawe is van my skryfervaring.

Vertaalwerk

1998: Die GRAFFIX-reeks (3 boeke) vertaal uit Engels in Afrikaans vir Human & Rousseau

Uitkomsgebaseerde Studiehandleidings

2001: Die verwerking van volwasse beroepsgerigte studiemateriaal vir The Learning Network.

Publikasies

  • 1990: Die wind sal weet (Tafelberg) Vier bydraes vir drama- en prosabundel vir Graad 7
  • 1992: Jy en die draakakkedis (J.L. van Schaik) Kies-jou-eie-avontuur vir kinders 8-10 jaar
  • 1992: You and the dinosaur (J.L. van Schaik) Vertaling van Jy en die draakakkedis
  • 1993: Jy en Hercules (J.L. van Schaik) Kies-jou-eie-avontuur vir kinders 8-10 jaar
  • 1994: The Friendly Elephant (Hodder & Stoughton) Deel van die Fountain Series
  • 1994: Daar’s ‘n spook in my kas (Human & Rousseau) Vir kinders 6- 8 jaar
  • 1994: Nicola B: Streng Privaat (Tafelberg) Tienerboek
  • 1994: Jy en Toetenkat (J.L. van Schaik) Kies-jou-eie-avontuur vir kinders 8-10 jaar
  • 1994: Anderkantland (Tafelberg) Tienerboek
  • 1994: Van die banke op die planke (Kagiso) Een bydrae in dramabundel vir kinders
  • 1995: ‘n Haas moet doen wat ‘n haas moet doen (Human & Rousseau) Vir kinders 8-12 jaar
  • 1996: Tersia Thom 1: Vriend of vyand (Tafelberg) Eerste boek in speurreeks vir tieners
  • 1996: Tersia Thom 2: Die Donkerhoek-driehoek (Tafelberg)
  • 1996: Tersia Thom 3: Skerwe in drome (Tafelberg)
  • 1996: My naam is Alexander en wat daarvan? (Kagiso) Tienerboek
  • 1996: In die tyd van die Esob (Tafelberg) Tienerboek
  • 1997: Op die spoor van die Lesea-vanger (Juta) Kies-jou-eie- avontuur – deel van STERREEKS, Graad 3
  • 1997: Droomvangers (Human & Rousseau) Tienerboek
  • 1998: Tersia Thom 4: Bloed is die kleur van ivoor (Tafelberg)
  • 1998: Maar my magtig, Moesoek (Tafelberg) Tienerboek
  • 1999: Perfectly Me (Cambridge University Press) Cambridge Life Skills Project – Picture Book.
  • 1999: Vonkfiksie (Human & Rousseau) – twee bydraes
  • 2000: Die Balkieboek (Human & Rousseau) Vir kinders 3- 99
  • 2000: Babelela (LAPA) Volkleurprenteboek
  • 2000: Anderekantland (Koninklijk Instituut voor de Tropen) Nederlandse vertaling van Anderkantland
  • 2001: In die tyd van die Esob – ‘n Gids (Tafelberg) Uitkomsgebaseerde werkboek
  • 2001: Lisa het ‘n plan (LAPA) Volkleurprenteboek
  • 2003: Eendag was daar ‘n storie! – ‘n Praktiese Storiemaakkursus (Tafelberg) Skryfhandleiding
  • 2003: Ek is Simon (Tafelberg) Volkleurprenteboek
  • 2003: I am Simon (Tafelberg)
  • 2003: Skilpad sonder ‘n dop (Nasou-Via Afrika Opvoedkundige 
    Uitgewers) 
    Tortoise without a Head 
    Die eensame draak (Nasou-Via Afrika Opvoedkundige Uitgewers)
    The Lonely Dragon 
    Daar’s ‘n spook in my kas (Nasou-Via Afrika Opvoedkundige 
    Uitgewers) 
    My Cupboard is Haunted 
    (Laasgenoemde is n verwerking van Daar’s ‘n spook in my kas 
    wat in 1994 by Human & Rousseau verskyn het, en tans uit druk
    is.)
    Bogenoemde drie titels verskyn as sg. “Big Books” vir gebruik in 
    skole: Graad 1, 2 en 3) Van elke titel is ook “Small Books” 
    beskikbaar.
  • 2003: Jamie en Sebastiaan (LAPA) Avontuurstories vir kinders 6- 10
  • 2004: Balkie en die Kleurdief (Human & Rousseau) ‘n Anderste 
    Prenteboek vir mense 3-99
  • 2004: Die Hart van Zeebak (Tafelberg) Jeugboek
  • 2004: Diep, diep in ‘n donker bos (LAPA) (‘n Babalela -“opvolg”)
  • 2004: Afrika Vertel (Nasou-Via Afrika Opvoedkundige Uitgewers)
    Oorvertelling van Afrika Legendes) Algemene Leesboek Graad 4-7
  • 2004: Balkie en die son se slaapplek (Best Books) ‘n Lees-, Leer- en Taalreis. (Graad 4) 
    Balkie and the Sun’s Resting Place (Best Books) Reading, 
    Learning and Enjoying Language (Grade 4) 
    Balkie en die woeste virus (Best Books) ‘n Lees-, Leer- en 
    Taalreis. (Graad 5) 
    Balkie and the Vicious Virus (Best Books) Reading, Learning and Enjoying Language (Grade 5) 
    Balkie en die lugrowers (Best Books) ‘n Lees-, Leer- en Taalreis. (Graad 6) 
    Balkie and the Pirates of the Sky (Best Books) Reading, Learning and Enjoying Language (Grade 6)
  • 2007: Jy en die dinosourus (LAPA)
  • 2007: Jy en Hercules (LAPA)
  • 2007: Jy en Toetenkat (LAPA)
  • 2008: Jamie en Sebastiaan en die storiemol (LAPA) saam met Martie Kruger
  • 2008: Lisa het ‘n plan (LAPA)
  • 2008/2009: Loebi-leesreeks (www.loebi.co.za)
  • 2009: Vandag is nie gister nie – ‘n spanningsverhaal vir volwasse lesers
  • 2009: Die land van stories – ‘n praktiese storiemaakkursus – Vir almal met ‘n liefde vir stories
  • 2009: Los ons uit! (LAPA)
  • 2009: Emma en die Bleg. (LAPA)

Stories en sketse

Verskeie kortverhale en artikels vir tydskrifte asook sketse vir radio.

TV-draaiboeke

  • 3-UP: Program vir kinders 3-8; 26 programme, uitgesaai op e-TV van Februarie tot Julie 1999. – Draaiboeke vir gedeelte van die programme asook die “skakels”.
  • Thysie Kwadraat: Volwasse drama; beplande produksiedatum: 2002.
  • Balkie: Kinderreeks in 13 episodes vir SABC2. Datum van produksie moet nog bepaal word.
  • A Child of Africa: (werkstitel) Kinderreeks in 13 episodes in opdrag van Sonneblom Films geskryf. Produksie moontlikhede word nog ontgin.

Rubrieke

Maandelikse kinderstorie (Balkie) in rooirose (Januarie 1993 – Desember 2005)

Weeklikse kinderstorie (Jamie en … Sebastiaan) in vrouekeur (sedert April 2000)

Maandelikse storie (Kanja die Derde) in rooirose, saam met Martie Kruger en Heidi Fivaz (illustrasies) (Januarie 2006 – April 2008)

Toekennings

1986: Die groot slang en die ongehoorsame kind. ‘n Toneelstuk gebaseer op ‘n Tsonga-legende (gepubliseer in Van die banke op die planke: 1994) Sebokeng Onderwyskollege, Vanderbijlpark wen met die opvoering van hierdie toneelstuk die ATKV se ATO’86 kompetisie (Afrikaanse Toneel vir Onderwyskolleges)

1989: Moditjhaba (in Engels) (ongepubliseer) Deur Via Afrika- uitgewers bekroon as die beste oorspronklike toneelstuk op die Interkollege-Dramafees te Vanderbijlpark

1994: Silwer Sanlamprys vir Jeuglektuur vir Anderkantland

1996: ATKV-kinderboektoekenning (1994) vir Daar’s ‘n spook in my kas (kategorie: 6-7 jaar)

1996: ATKV-kinderboektoekenning (1994) vir Jy en Toetenkat (kategorie: 8-9 jaar)

1996: C.P. Hoogenhout-medalje vir Anderkantland (Beste kinderboek in 1994-1995)

1996: Sanlamprys vir Jeuglektuur vir In die tyd van die Esob

1998: In die tyd van die Esob word verkies vir die Ererol van IBBY (International Board on Books for Young People) en verteenwoordig Suid-Afrika by ‘n Internasionale Simposium vir Jeugboeke in Indië

1999: Naaswenner in Vonkfiksiekompetisie van DE KAT/ Human & Rousseau

2001: Alba Bouwerprys vir Kinderlektuur (toegeken deur die Akademie vir Kuns en Wetenskap) vir Die Balkieboek (Beste boek vir kinders 7-12: 1998-2000)

2002: ATKV- kinderboektoekenning (2000) vir Die Balkieboek 
(kategorie: 6-7 jaar)

2003: Tienie Holloway Medalje vir Kleuterliteratuur (toegeken deur die
Akademie vir Kuns en Wetenskap) vir Babalela en 
Lisa het ‘n plan.

2004: M.E.R Prys vir Kinderliteratuur vir Ek is Simon

2006: Tienie Holloway Medalje vir Kleuterliteratuur vir Diep, diep in ‘n donker bos

Inligting verskaf deur Martie Preller, Januarie 2005 – bygewerk Junie 2011
Martie Preller
2011-06
0
Would love your thoughts, please comment.x