“Ek sal sê my liefde vir lees het begin toe ek Zackie Mostert ontdek het” – só skryf Bianca Gouws in ʼn verslag oor haar leeservarings as kind.
Die skryf van kinder- en jeugliteratuur is een van die modules in die Skryfkunskursus aan die NWU. Die voorgraadse kursus bestaan uit opeenvolgende semestermodules oor die skryf van verskillende genres, naamlik:
- Jaar 1: Inleiding tot Skryfkuns; Skryf van prosa
- Jaar 2: Skryf van poësie; Skryf van kinder- en jeugliteratuur
- Jaar 3: Skryf van drama; Skryfkuns in toepassing
In die module vir kinder- en jeugliteratuur word die studente op verskeie wyses aan kinder- en jeugliteratuur bekendgestel.
Ter voorbereiding van die semester kry hulle ʼn leeslys waarin hulle aan die verskeidenheid genres en teikenlesers bekendgestel word – bv. prenteboeke, kinderboeke, jeugboeke, reeksboeke, diereverhale, klassieke internasionale boeke, ens. Vanselfsprekend bevat die lys heelparty LAPA boeke en skrywers. Die studente se reaksie op die leeslys is dat dit hulle weer herinner aan die boeke wat hulle as kinders gelees het – maar dat hulle ook nuwe skrywers en onlangser publikasies ontdek.
ʼn Tweede opdrag oor leeservarings behels ʼn leesverslag van 1-2 bladsye oor die studente se leeservarings as kleuter-, kind- en tiener. Die doel van hierdie aktiwiteit is dat die studente oor hulle eie ervaring met boeke en stories moet nadink, en hulle sodoende ook bewus word van die leesbehoeftes en leesfases van die teikenlesers vir wie hulle wil skryf.
Die studente moet ook ʼn kort leesondersoek doen waarin hulle self meer kennis oor die lesers en hulle leesbehoeftes moet bekom. In die ondersoek moet hulle onder andere oplet na die invloed van tegnologie op jong lesers se leeservaring.
Die groter opdragte behels kreatiewe skryfwerk en navorsingstake:
- Skryf van ʼn jeugverhaal
- Skryf van ʼn kinderverhaal
- Prenteboeke en skryf van ʼn kleuterverhaal
- ʼn Referaat oor Volksverhale gekombineer met die herskryf van ʼn volksverhaal
- ʼn Semesteropdrag met ʼn kreatiewe opdrag waarin hulle ʼn projek moet doen waarin hulle met storievertelling in die digitale era eksperimenteer; en ook ʼn referaat oor ʼn aanverwante tema moet skryf.
Ek was ʼn skatryk en bevoorregte kind, omdat ek altyd storieboeke, en stories, om my gehad het.
Vir die leesverslag-opdrag, verwys ek as vertrekpunt die studente na Riana Scheepers se skrywe oor haar ervaring as jong leser wat in die Beeld verskyn het. Die slotsin lees: “Ek was ʼn skatryk en bevoorregte kind, omdat ek altyd storieboeke, en stories, om my gehad het.” Van die studente gebruik hierdie geleentheid om afgeronde kort essays oor hulle leeservaring te skryf. Dié leesverslae vorm ook die basis van klasbesprekings oor die jong leser.
Verder bied die leesverslae vir my ʼn blik op die leeservarings van die studente wat voor my sit. Die laaste die tot vier jaar is dit opvallend dat titels en skrywers van LAPA-Uitgewers in die verslae genoem word. Vir van die studente tussen 19 en 21 jaar was LAPA-kinderboeke deel van hulle leeswêreld. Met die agterna-perspektief waarin hulle terugkyk na hulle eie leeservarings, besin die studente ook oor die moontlike redes vir hulle eie leesvoorkeure. Dit is duidelik dat van die boeke en karakters om verskeie redes ʼn indruk op hulle gemaak het.
Ek wil ʼn paar van dié ervaring uit die leesverslae uitlig. Dit is egter belangrik om in ag te neem dat die studente wat Skryfkuns as vak neem, nie noodwendig die deursnee student se leeservaring as kind weerspieël nie. Die skryfkunsstudente is ook oorwegend vroulik. Tóg kan dit interessant wees om na tendense te kyk – en by spesifieke studente se leeservarings stil te staan.
My gunsteling boek van kleins af was …
Een van die belangrikste aspekte is lesersidentifisering met die karakters of situasie. Die aard van hierdie identifisering verskil egter – ook wat betref die leeftydsfase van die lesers.
Vir die een student was Martie Preller se Lisa het ʼn plan van kleins af ʼn gunstelingboek. Sy skryf so hieroor:
“My gunsteling boek van kleins af was Lisa het ’n plan deur Martie Preller. Die boek het my altyd laat glimlag as my ouers dit vir my gelees het. Ek het altyd gevoel asof enige iets moontlik is omdat Lisa die hele boek deur probeer om deur haar familie gehoor en raak gesien te word en dan aan die einde van die boek is sy die redder van die dag en die familie het belowe van toe af altyd te luister as sy iets sê.” (Lisa van Rooyen – 2019)
Dit is nie vreemd dat Lisa van Rooyen met so ʼn slim naamgenoot identifiseer nie!
Revé Venter se gunstelingboek in graad 3 was Jaco Jacobs se Wiskunde gee my maagpyn. “Ek het die boek geniet, want ek kon identifiseer met die karakter se negatiewe gevoel oor Wiskunde.” (Revé Venter – 2017)
Bianca Gouws het as graad 4-leerder die Zackie Mostert-boekies ontdek:
“Ek sal sê my liefde vir lees het begin toe ek Zackie Mostert ontdek het. Dit was rondom graad 4, en ek dink tot nog graad 6. Ek het dadelik verlief geraak op Jaco Jacobs se skryfwerk. En ná Zackie is dit die skrywer wat ek gelees het.
Zackie Mostert sal ek tot nou toe as my gunsteling kinderboek identifiseer. Alhoewel dit my nou nie meer so stimuleer nie, kan ek onthou hoe my pa my geskel as ek wou lees op pad huis toe van die boekwinkel – omdat ek karsiek kry. Dit was definitief ʼn boek waarvoor ek nie kon wag om te lees nie en sou probeer om alles in een dag te lees. Ek het ook op ʼn stadium die boeke woord vir woord geken, omdat dit al was wat ek wou lees.” (Bianca Gouws – 2019)
Dit was die begin van my leesavontuur
Vir die sportmal Cobus Crowther was dit ʼn krieketstorie waarmee hy as graad 4-leerder kon identifiseer – en wat sy leesbelangstelling aangewakker het. Ek lees uittreksels uit sy verslag, omdat dit sy ervaring so helder verwoord:
“Ek het aanvanklik toe ek ʼn kind was nie vreeslik baie van lees gehou nie. Ek was ʼn kind wat mal was oor sport en ek het baie sportsoorte beoefen, maar my gunsteling sport, was krieket gewees. Die eerste boek wat ʼn blywende indruk op my gemaak het, was Gevaarlike Lopies deur Jaco Jacobs (2004). Ek het hierdie boek gelees toe ek graad vier was. My ouers het vir my dié boek gekoop omdat hulle gedink het ek sal van die krieketstorie hou. Ek het dadelik van die boek gehou. Op die stadium toe ek dit gelees het, was ek nog nooit op ʼn kriekettoer gewees nie. Ek onthou hoe jaloers ek was op die seuns in die boek wat op ʼn kriekettoer kon gaan en ek kon myself inleef in die storie. Alhoewel ek die boek begin lees het vir die sport gedeelte, was daar ook ʼn avontuur-element in oor gesteelde diamante. Dit het gemaak dat ek ook agter die storie begin aanlees het en dit het gemaak dat ek van avontuur-stories ook begin hou. (Cobus Crowther – 2019)
Nog ʼn krieketboek wat Cobus gefassineer het, was “Howzat! A cricket story” deur Brenda Muntich (2009).
In Cobus se besinning oor sy leesvoorkeur sê hy:
“Ek dink die rede hoekom ek hierdie twee boeke verkies, is omdat dit die tipe stories was, wat ek wou lees en waarmee ek myself kon identifiseer. Ek het boeke probeer lees toe ek jonger was en dikwels opgegee omdat dit nie vir my interessant was nie. Ek weet nie almal sal aanklank vind by hierdie twee boeke nie, maar dit is die stories wat gemaak het dat ek van lees begin hou het. Die spannende wedstryde en toere was dinge waarmee ek kon identifiseer en ek wou heeltyd weet wat verder gaan gebeur. Ek dink waar baie kinders nuuskierig was oor wat met die skurk gaan gebeur in ʼn storie het sportstories daardie gevoel vir my gegee.” (Cobus Crowther – 2019)
Cobus speel steeds krieket en is ook ʼn krieketafrigter. Vir sy leesondersoek het hy met ʼn klompie van die seuns in sy krieketspan gesels. Dit was die begin van my leesavontuur.
Die eerste boek wat ek goed kan onthou ek self gelees het en nie kon ophou lees nie, was…
Opwindende avonture en die nuuskierigheid oor wat volgende gaan gebeur, is sekerlik een van die kardinale aspekte wat ʼn jong leser se aandag kan vang en behou.
Spookstories, grillers en rillers was nog altyd gewild. Naas die gewilde Griller-reeks (Goosbumps), is die Afrikaanse lesers se behoefte aan hierdie leesstof veral vervul deur Jaco Jacobs en Fanie Viljoen. Nucinda Basson het bv. geskryf hoe sy en haar tweelingsuster graag bangmaakstories gelees het. “My gunsteling boek van Jaco Jacobs was Nag van die monsters en Troetelgedrog. Later het ons die bundels 13 Spookstories en Nog 13 Spookstories gelees wat ons aan Fanie Viljoen bekend gestel het.” (Nucinda Basson – 2017)
Wat opvallend is, is hoeveel jong lesers na Carina-Diedericks Hugo se Thomas@-reeks verwys wat juis hierdie opwindende avonture gebied het. Nucinda skryf verder:
“Ek het eers ernstig begin lees op laerskool. As ʼn graad vyf leerder het ons ʼn verpligte periode gehad waar ons na ʼn mediasentrum geneem is om ʼn boek vir die week uit te neem en te lees. Dit was die begin van my leesavontuur. My eerste boek wat ek uitgeneem het was Thomas@aqua.net deur Carina Diedericks-Hugo. Die boek het my heeltyd op die punt van my stoel gehad en ek kon net nie genoeg van die reeks kry nie. Dit was vir my as laerskoolkind baie interessant om te sien wat in die lewe van ʼn hoërskoolseun aangaan, en natuurlik het ek in my verbeelding die perfekte karakter as die held gesien.” (Nucinda du Buisson – 2017)
Dit is ook die tyd van ontdekkings – en hoe die lees van een boek/of genre, kan aanleiding gee tot die uitbreiding van leesbelangstelling – ook in ander tale of meer uitdagende boeke. Dit is opvallend dat die boeke wat dikwels hier genoem word, Carina Diedericks-Hugo se Thomas@-reeks is.
Anri Labuschagne is een van die lesers wat aandui dat die Thomas@-reeks hulle aan speurverhale en ook rillers bekend gestel het:
“Danksy aan Tomas@ het ek ook speurverhale en rillers begin lees. Boeke soos Sherlock Holms, Nancy Drew, Phantom of the Opera, Tom Sayer, Die Geheime wapen, Die Vrou met die Pers oog, Die Speletjie, Selfone, Skurke en Skerpioene (reeks) het my dae gevul en wanneer my werk in die klas klaar was, kon ek altyd met ’n boek gesien word. Dit of tolletjie brei (dit was ’n mode).” (Anri Labuschagne – 2019)
Die Thomas-reeks is opvallend gewild by meisies – veral ook in ʼn stadium waar hulle eerder voorkeur gee aan avontuurverhale met seuns as hoofkarakters:
“Die eerste boek wat ek goed kan onthou ek self gelees het en nie kon ophou lees nie, was Thomas@moord.net. Hierdie boek was oorspronklik ’n geskenk aan my broer, maar voor hy belangstelling kon wys het ek reeds Thomas se hele gesin en vriendegroep geken. Ek het daarna elke Thomas boek gelees wat bestaan. My ouers het probeer Saartjie boeke en Daar is ’n ou in my aarbei smoothie aan my afsmeer, maar al daai meisierige dinge was nie vir my nie. Ek het meer belangstelling getoon in boeke wat waarskynlik vir seuns geskryf is, soos die Nova reeks.” (L Pelser – 2019)
In haar vroeë tienerjare het Cari Cloete veral van die karakters in die Thomas@-boeke gehou – en het ook begin dagdroom dat syself in die storie kan beland – ook wat betref die liefdesintriges. Dit is egter ook opvallend dat die humor in die boeke haar aangetrek het. Humor, soos identifisering, is ʼn baie belangrike meganisme om jong lesers te lok.
“Tydens my vroeë tienerjare het ek baie van die Thomas@-boeke gehou omdat die karakters by jou bly lank nadat jy die laaste bladsy gelees het. By tye huil jy van die lag en by ander wil jy net so graag jou gunsteling karakter troos. Ek het al meermale kere gedagdroom dat ek in die storie kan beland en dat die karakter waarop ek verlief is, van my ook sal hou en dat ons aan die einde ’n paartjie kan wees. Soms verdraai ek die storie só in my kop, dat ek seker maak die karakters vind liefde en geluk. My gunsteling karakter was die grapmaker, Hannes, wat my altyd in ’n giggelbui laat uitbars as hy net sy mond oopmaak. Ek geniet sy reaksies ook, omdat hy altyd die teenoorgestelde doen wat mens verwag byvoorbeeld: hy het een keer flou geval toe hy ’n mens se skedel gesien het en een van die meisies moes hom klap, sodat hy net weer bykom. En dit nog terwyl hulle perlemoensmokkelaars agtervolg! Ek het ook die Reënboogrant-reekse geniet omdat ek veral as tiener met dieselfde probleme gesukkel het.” (Cari Cloete – 2017)
Die vroeë tienerfase is ook waar die liefdesverhoudings ʼn belangrike rol speel. Die eerste leeservaring hiervan, is egter nie vir alle lesers plesierig nie – soos Lize-Mari de Wet ewe humoristies vertel:
“Toe ek ouer geword het, het ek van die kinderafdeling na die tienerafdeling beweeg. Dit was vir my ʼn vreemde gevoel om nie meer deur soveel prentjies en kleure omring te word nie, maar die kinderboeke het vir my begin verveel. Ek onthou baie goed dat een van die eerste tienerboeke wat ek gelees het, ʼn gedeelte ingehad het waar ʼn meisie en ʼn seun mekaar gesoen het. Ek onthou dat ek die boek toegemaak het en in my boekrakkie ‘weggesteek’ het. Ek het die boek nie weer uitgehaal tot ons dit moes teruggevat (biblioteek toe) nie.” (Lize-Mari de Wet – 2019)
En toe kom die dag wat my innerlike “hopeless romantic” ’n verskyning gemaak het.
Twee titels wat herhaaldelik voorkom as oorgang tot die lees van liefdesverhale is, Liefde laat jou Rice Krispies anders proe, en Christien Neser se Elle-reeks.
Soos Anri Labuschagne dit stel:
“Van die ouderdom van 12 het ek nie net liggaamlike puberteit begin ervaar nie, maar ook ’n tipe puberteit in die boeke wat ek gelees het. Dit was heeltemal my ma se skuld (sy is ’n hoërskool onderwyseres), as sy nie vir my van hulle voorgeskrewe leesboeke en boeke uit die Mediasentrum gebring het nie sou ek nog ’n bietjie langer aan my fantasieë kon vas hou. Dit het alles begin met die Thomas@ reeks, elke keer wat ek of sy ’n draai kon maak by die Mediasentrum, het ek die volgende boek in die reeks gekry, totdat ek die hele reeks klaar gelees het. En toe kom die dag wat my innerlike “hopeless romantic” ’n verskyning gemaak het. Liefde laat jou rice krispies anders proe het my lewe verander, my wêreld gerock en my oë oopgemaak vir liefdesverhale.” (Anri Labuschagne – 2019)
Ook vir Zeldri Nel het hierdie boek haar aptyt vir liefdesverhale aangewakker. Sy verwoord die voorkeur vir liefdesverhale so: “In my tienerjare was hierdie boeke ’n manier om hoop oor te dra en aan tieners te wys dat dit nie slegs hulle lewens is wat soms deurmekaar en moeilik is nie.” (Zeldri Nel)
ʼn Behoefte aan opwindende gebeure en avontuurlustige karakters, dra dikwels daartoe by dat meisies boeke verkies met seuns in die hoofrolle. Vir Lieshen Pelser was Christien Neser se Elle-reeks dié middeweg.
“Ek het eers begin meisieboeke lees toe ek op hoërskool kom en besluit om hierdie liefdestories uit te toets, gelukkig het ek op die reeks Koshuiskoffie, van Christien Neser afkom. Hierdie boeke het my aandag getrek omdat dit nie net oor seuns en verlief wees gegaan het nie, maar omdat sy vreeslik avontuurlustig was en ek kon vereenselwig met haar karakter.” (L Pelser – 2019)
Verskeie studente het aangedui dat dié reeks van Christien ʼn gunsteling is:
Zeldri het verskeie tienerreekse gelees soos die Reënboogrant-reeks van Maritha Snyman en Louise van Niekerk, maar…
“my gunsteling reeks van alle tye bly die verhaal van Elle in die Kondensmelk-reeks deur Christien Neser. Hierdie reeks is SUPERHIPERMEGA soos Elle sou sê.” (Zeldri Nel – 2016)
“Ek het Kondensmelkkoffie gelees en in my eie fantasiewêreld geleef met die idee dat ek ook my kêrel by ʼn kampterrein gaan ontmoet en dat ek ook eers nie van hom gaan hou nie, maar later smoorverlief op hom sou raak.” (Lize-Mari de Wet – 2019)
Dit is duidelik dat Christien Neser se Elle-reeks verskeie elemente het wat tot die sukses daarvan bydra, naamlik ʼn sterk avontuurlustige meisiekarakter, die liefdesverhoudinge en ʼn stewige kwota humor.
Uit die verslae blyk dit dat reeksboeke soos Thomas, Elle, SSS, en Reënboogrant ʼn groot aantrekkingskrag vir jong lesers het. Die gewildheid hiervan kan o.a. daaraan toegeskryf word dat die karakters vriende word.
“Die jeugboeke wat ek nou koop is Christien Neser se Elle reeks. Die reeks het verskyn toe ek nog op Hoërskool was, so ek het dit toe al gekoop. Ek koop nog steeds die nuwe boeke in die reeks, want dit is vir my lekker om te sien hoe Elle se lewe verloop en wat sy en haar vriende doen.” (Lizette Ribberink – 2016)
Dit was as gevolg van die boek en sy spannende storielyn, tesame met sy indrukwekkende karakters, wat my opinie van kinderliteratuur en tiener-fiksie vir altyd verander het.
Soms is daar ook ʼn boek wat so uitstaan vir die jong leser, dat die student ʼn hele leesverslag daaraan wy. Dit is dan duidelik dat dié boek om ʼn bepaalde rede ʼn groot invloed uitgeoefen het. Vir Engeli Nel was Jaco Jacobs se Virus so ʼn boek. Dit is opvallend hoe sy na die visuele elemente in die boek verwys. Die karakterisering en spanning het daartoe bygedra dat sy die boek nie kon neersit nie – en selfs jare later detail kan onthou. Hierdie boek het ook haar siening van tienerfiksie en kinderliteratuur verander.
“Toe ek om-en-by graad vyf of ses was, ongeveer tussen twaalf en dertien jaar oud, het ek, soos die gewoonte elke tweede Woensdag was daardie tyd, drie boeke by die plaaslike biblioteek gaan uitneem. Waarvan een, die einste Virus deur Jaco Jacobs was. Ek het oorspronklik die boek gekies as gevolg van die visuele elemente wat vir my uitgestaan het, en omdat ek al teen daardie tyd, baie boeke van Jaco Jacobs gelees het.
“Al wat ek regtig van die boek kan onthou, is dat dit gegaan het oor ’n virus wat uitgebreek het, en sodoende die wat deur dit geïnfekteer was, ‘zombies’ gemaak het. Alhoewel ek nie die presiese storielyn kan onthou nie, onthou ek wel dat die karakters en storielyn my so gefassineer het, dat ek kon nie die boek vir ’n oomblik kon neer sit nie. Die beskrywing en visuele uitbeelding van hierdie ‘zombies’ was uitstekend en het my, as jong leser, vasgevang het in die wêreld van boeke. Dit was die eerste keer, wat ek waarlik ’n boek met daardie vlak van visuele elemente gelees het. Die boek het eerlikwaar my asem weggeslaan.
“Omdat ek nog altyd ’n stadige leser was, het die eerste paar hoofstukke my ’n hele rukkie geneem voor ek dit agter die rug kon kry, maar binne ’n dag en ’n aand (van geen slaap, bygesê) was die slapband boek van voor na agter, plat gelees. Die spanning wat byna oral in die boek voorkom, het my, as jong leser, so vasgevang dat ek myself so ingeleef en verloor het in die verhaal. Ek was so ingetrek deur die boek, dat ek nie besef het dat die horlosie se wysers al ver verby vier uur die volgende oggend gestrek het nie.
“Alhoewel ek nie die presiese storielyn en al die fynere besonderhede van die boek in hul presiese woorde kan onthou nie, het die storie en sy karakters nog al die jare by my gebly. Dit was as gevolg van die boek en sy spannende storielyn, tesame met sy indrukwekkende karakters, wat my opinie van kinderliteratuur en tiener-fiksie vir altyd verander het.” (Engeli Nel – 2018)
Om minder eensaam te voel
Ook Bianca Gouws, ons groot bewonderaar van die Zackie Mostert-boeke, het ander “aanbeweeg”.
Bianca se lukrake leesbelangstellings is tog interessant omdat dit beklemtoon dat lesers nie so maklik in hokkies en vakkies gedeel moet word nie. Sy skryf oor hoe sy deur ʼn vriendin voorgestel is aan ander skrywers (soos Fanie Viljoen) en tienerboeke. Bianca se ouers het gereeld vir haar nuwe boeke gekoop – dikwels ʼn allegaartjie van boeke vir uiteenlopende onderhoude – soos Zackie Mostert-boeke saam met Fanie Viljoen se Pleisters vir die dooies en Uit. (Pleisters… laat haar steeds gril.) Toe sy dié boeke ontgroei het en op die Twilight film verlief geraak het, het sy die boeke tweedehands gekry by hulle biblioteek.
Die groot rol wat boeke in Bianca se lewe gespeel het, is duidelik wanneer sy skryf:
“In die tyd wat ek ook nie vriende gehad het nie, was dit ʼn manier om minder eensaam te voel. Ek sou gewoonlik in die badkamer gaan sit met ʼn uitgeneemde boek of die een wat vir ons voorgeskryf was deur die skool. In graad 9 was Sweef voorgeskryf en daar was net in klas sekere kortverhale behandel, dan sou ek die ander gaan sit en lees het.” (Bianca Gouws – 2019)
Bianca het later vriende gemaak, en van hulle het ook haar leesliefde gedeel:“Later toe ek vriendinne kry, was dit tussen my en die een meisie wie die meeste en vinnigste kon lees. Sy het elke keer gewen.”
Met verdrag – en met die groter beskikbaarheid van tegnologie het haar leestyd egter verminder en later verdwyn:
“Ek dink toe tegnologie meer en meer word, het my leestyd verminder en later verdwyn. Dit was makliker om op Instagram te gaan en heeldag op dit te lê as wat dit was om jou verbeelding te gebruik.
“Nou dat ek op universiteit is en lees deel van my kursus is, maak ek ook nie meer baie tyd vir lees nie, weens dat ek so moeg is van die boeke wat ek moet lees dat dit lekkerder is om opvolgverhale te kyk as om te dink en te lees.” (Bianca Gouws – 2019)