Die kreatiewe proses vir die strokiesprente in AvonTUUR

Die bekroonde kinderboekillustreerder, Alex van Houwelingen, is op 5 April 2020 oorlede. In dié verslag skryf hy oor die kreatiewe proses as deel van die kunstenaarsboek, AvonTUUR (2007).

Die bekroonde kinderboekillustreerder, Alex van Houwelingen, is op 5 April 2020 oorlede. Hy het ‘n rare vorm van kanker gehad. Alex is veral bekend vir sy illustrasies van die Zackie Mostert-reeks deur Jaco Jacobs. Alex se pad het ook met dié van Storiewerf gekruis toe hy in 2007 met my kontak gemaak het en die navraag daartoe gevolg het dat hy die kunstenaarsboek, AvonTUUR, geïllustreer het. Die boek was deel van die Kreatiewe Kreature groepsuitstalling tydens Aardklop Kunstefees 2007. Hierdie artikel is Alex se verslag van sy kreatiewe proses in die projek.
– Franci Greyling, 8 April 2020.

Op ‘n verveelde oomblik het ek op ‘Storiewerf’ afgekom en daarin was onder andere ‘n skakel wat beloof het om raad te gee vir voornemende skrywers en illustreerders. Ek het vir Franci ‘n e-pos gestuur met van my werk en toe soortvan vergeet daarvan. ‘n Geruime tyd later het Franci my gevra of ek ook strokiesprente kan doen, en laat dit nou toevallig die geval wees!

Die belangrikste aspek van die maak van die strokiesprente was om geloofwaardige karakters te skep. Franci het duidelik gemaak dat die karakters eietyds moes wees. Direk het ek ‘n beeld in my kop gekry van Alta met ‘n strepiestoppie en die ma met ‘n donkerraam brilletjie. Ek wou spesifiek gehad het dat die karakters se uiterlik en houding herkenbaar is. Agterop ‘n ou kunsgeskiedenis-nota of iets dergliks het ek toe die drie karakters geteken, sommer net ‘n rowwe skets. Die ma as effens kunssinnige moderne vrou, Alta as selfbewuste graad 8 of 9 meisie en Jac as irriterende jong seuntjie wat dit nog geweldig interessant vind om vuil te word. Alta loop effens krom en onseker. Haar hare is normaal. Sy wil veral deel wees van die groep. Jac se ambisie is niks anders as om reaksie by sy suster te ontlok nie en aangesien hy geweldig suksesvol hiermee is, gee hy dink ek nie te veel om oor die mode nie. Hy dra daarom ‘n gewone hemp en broek, met genoeg sakke vir ‘n kakkerlak of iets soos dit om in te pas. Dan kan hy dit byvoorbeeld in sy suster se nek deponeer.

Toe die karakters die goedkeurende knik van my grootste kritikus, my broer Arjan, gekry het, het ek net begin met teken. Op hierdie oomblik het ek nog nooit ‘n voet binne die Vredefort Koepel gesit nie. Uit eie leeservaring weet ek dat daar min dinge is wat meer irriterend is as karakters of situasies in boeke wat geforseer word nie. My doel was dus om alles relatief normaal te laat lyk. Niemand wys oordrewe emosies nie. Die gesin ry byvoorbeeld nie in ‘n té armoedige of ‘n té luukse kar nie. Alta is heeltyd besig met haar selfoon, maar sy moet nog steeds die tent opslaan. Ek wou in alles wat ek doen veral die situasie subtiel uitbeeld.

Vir die res is die proses nie so romanties nie. Papier, lineaal, potlood, Bic Ballpoint pen en goedkoop waterverf was my geselskap. Dit was ook vir my ‘n logiese keuse, want dit is ‘n kwessie van smaak. Boonop het my ander persoonlike kritici, my vriendin Ilze en my ma, ook goedkeurend geknik. My pa het selfs tot die – vir hom buitengewoon uitbundige – reaksie “O, skryf jy die letters met jou hand en nie op rekenaar nie” gegaan.

Alex (regs) en Arjan op die Schoemansdriftbrug in die Vredefortkoepel (Mei 2007)

Deur hierdie komplimente aangespoor, het ek vol verwagting na die tweede ontmoeting met Franci uitgesien. Dit was in Parys en by die Vredefort Koepel. Om die half dromerige landskappe te sien het my natuurlik baie gehelp tydens die res van die projek. Ek het my kamera menigmaal gebruik tydens die uitstappie, maar by die huis aangekom het ek besef dat ek nie weet waar die data-kabel is nie, en het ek dus eintlik alles uit my kop geteken.

Mettertyd het gebeur wat ek nooit as moontlik ervaar het nie. Ek het van die karakters begin hou! Aan die begin van die strokiesverhaal het hulle almal my só geirriteer, maar Franci het die verhaal so laat verloop dat ek sonder om ‘n visioen te kry, maar net vanselfsprekend, van die karakters begin hou het. Hierdeur het ek my al hoe meer begin inleef in die avontuur van die kinders. Met die gevolg dat die tekeninge op ‘n natuurlike wyse ontstaan het. Ek is seker daarvan dat baie kunstenaars deur ‘n interessante kreatiewe reis gaan as hulle ‘n kunswerk produseer, waar hul hulself ontdek en allerhande filosofiese gedagtes by hulle briljante geeste opborrel, maar die enigste reis wat ek beleef het was die reis van Alta en Jac. Ek het dit gate uit geniet om op die reis te gaan, want in my daaglikse lewe is ek nie jou deursnee Kingsley Holgate nie.

Die meeste voldoening het ek egter daaruit gekry dat Franci my baie vryheid gegee het om die scenario na eie wense aan te pas. Aangesien ek nog baie onlangs ‘n kind was, was dit vir my maklik gewees om die storie kind-realisties te vertel. Die subtiele wisselspel tussen realiteit en verbeelding wat sigbaar is in Ian Marley se illustrasies, het ek probeer voortsit in die strokies.

Ek wil graag vir Franci Greyling, Arjan van Houwelingen, Ilze van der Westhuizen en Marlize Mulder bedank vir motivering, kritiek en komplimente.

Alex van Houwelingen
13 Augustus 2007

Die laaste bladsy van die boek: Alex en Franci saam met die karakters op die Schoemansdriftbrug.
‘n Dubbelblad uit AvonTUUR.

Meer oor die projek: Greyling, F. 2009. Avontuur: ʼn praktykgebaseerde verkenning van intermedialiteit en materialiteit in ʼn boekprojek. Stilet, 21(2):91-113.

Alex van Houwelingen
Geplaas: 8 April 2020