Môre sal dit drie weke wees dat my lewe verander het.
Die Dinsdag het begin as net nog ʼn dag. Ek het vroeg die oggend uit die huis geloop en in die hoek van die tuin onder die kaal boom gaan sit en bibber. Ek was moeg vir Pa en Ma se bakleiery. Hulle kon nie eens elkeen by die werk kom sonder om eers op mekaar te skree nie. Nadat Ma ook weg is, het ek opgestaan en broodjies gemaak vir skool.
Ek het toe skool toe geloop. Ons het wiskunde die eerste periode op ʼn Dinsdag.
Ek het Jeannie nooit rêrig raakgesien voor daardie Dinsdag nie, al het ons die meeste vakke saam. Die klas was nog rumoerig, terwyl almal in hulle sakke gegrawe het om penne en boeke te kry.
Jeannie sit oorkant my. Skielik het ek haar na haar asem hoor snak. Sy het effens orent gekom. Haar gesig was vaal. Verskrik. In haar oop hand was ʼn klip. Sy het daarna gestaar. Toe het sy vinnig haar hand toegemaak en die klip in haar baadjiesak laat ingly, weer oorgebuk en haar boeke uit haar tas gehaal.
En die wiskundeklas het begin.