In die hedendaagse lewe ervaar baie mense stories in die vorm van speletjies. Of jy dit besef of nie, baie keer wanneer jy ʼn speletjie met ʼn goeie intrige speel, is jy eintlik besig om ʼn goeie storie te lees. Wat is die boekvorm van ʼn interessante rekenaarspeletjie? ʼn Kies-jou-eie-avontuur-verhaal!
In Kies jou eie avontuur: Die gevaarlikste speletjie op aarde boek neem De Wet Hugo jou op die avontuur van ʼn leeftyd. Mario is sy skool se rekenaarspeletjiekampioen. Hy sal ure voor sy rekenaar vertoef terwyl hy die nuutste speletjies speel, wat hy by Nikos op skuld aankoop.. Op ʼn dag gee Nikos vir Mario ʼn vreemde USB met ʼn nuwe speletjie op. Mario sou nooit kon raai dat hy in die speletjie opgesuig sou word en lewensgevaarlike take moet verrig om die wêreld te red nie. Soos wat die boek se titel aandui, bevind Mario hom in die gevaarlikste speletjie op Aarde. Hy moet deur die sewe wêreldwonders van die Antieke Wêreld reis om goue muntstukke bymekaar te maak, maar om elke hoek en draai is daar ‘n gevaarlike lokval.
Elke keer wanneer Nikos ʼn keuse moet uitoefen, kry die leser die geleentheid om te kies wat Nikos moet doen. Dan word jy na die gepaste hoofstuk toe verwys. Maar, wees gewaarsku, een verkeerde keuse en jy mag dalk deur ʼn zombie opgevreet word!
Hierdie boek is baie lekker om te lees. Dit voel asof jy eintlik ʼn klomp stories tegelyk lees. Die verskillende storielyne is baie interessant en partykeer is die resultate van jou keuses uiters skokkend. As jy enigsins soos ek is, gaan jy die storie oor en oor lees totdat jy elke storielyn verken het.