Speelmaats Krokodil is kwaad

Speelmaats-reeks (resensie)

Rosie Greening; Illustrasies deur Dawn Machell
Lapa
Resensie deur Henk Louw

Ek het onlangs 6 van die 8 boeke uit die Speelmaats-reeks present gekry en met my kleuter deurgelees (herhaaldelik). My kleuter is baie lief vir die boekies en vra elke nou en dan weer vir een van die stories. Ek skryf die gewildheid toe aan eenvoudige illustrasies, patroonmatige (duidelike) stories en situasies wat herkenbaar aangebied word en waarmee kinders dus kan assosieer.

Ek vermoed een van die redes waarom die boeke so gewild is by die kleuter, het te make met die oorgrote illustrasies. Die karakters is eenvoudig geteken en is maklik herkenbaar, maar meer nog, die kunstenaar het daarin geslaag om hulle soos lappoppe te laat lyk, tot so ʼn mate dat my dogtertjie elke keer haar skaappop gaan gryp as ons een van die boeke lees, of skaappop lei daartoe dat een van die boeke gelees moet word.

Die teks self is uiteraard eenvoudig met weinig van die sinne wat meer as 6 woorde lank is. Eenvoudige, herhalende patrone vind in elke boek plaas. Elke boek hanteer ʼn aspek van emosie of lewensvaardighede deur ʼn soortgelyke toneel drie maal te laat uitspeel, voordat die gevolg van die optrede of emosie te toon gestel word, waarna die korrekte hantering van die optrede of emosie volg. Die tonele wat uitspeel, is ook tonele waarmee kleuters tipies sou kon assosieer, soos ʼn verlore speelding. In die boek “Hamster leer om te help” speel daar byvoorbeeld drie tonele uit waar Hamster nie wil help. Dan volg ʼn onaangename situasie (ʼn verlore legkaartstuk) waar Hamster skielik hulp nodig het by die ander speelmaats, maar hulle wil haar nie help nie, omdat sy kort tevore hulp geweier het. Sy korrigeer haar optrede deur eers die ander te help en saam vind die speelmaats die verlore legkaartstuk as die maats dan vir haar help.

Die onderwerpe wat hanteer word in terme van lewensvaardighede, is mededeelsaamheid, behulpsaamheid, maniere en die belangrikheid daarvan om na ander te luister. Wat emosies aanbetref, is vrees, geluk, kwaad en hartseer aan die bod.

Om die kernpunt van die storie te bevestig, word die betrokke woord gewoonlik in vetdruk uitgebeeld om die leser te herinner om dit te benadruk. Die oorspronklike Engelse vertaling sal dalk meer onthoubaar wees vir kleuters, met die gebruik van alliterasie en rym wat ongelukkig in die Afrikaans verlore gegaan het (Bear learns to Share en Sheep is Scared is meer onthoubaar as “Skaap is Bang” byvoorbeeld.) Elke boek eindig wel met ʼn aantal leeswenke vir die ouer waarin daar ʼn paar voorbeeldvrae gestel is wat gebruik kan word om die kind se begrip te evalueer.

Die boeke sal myns insiens nie oor ʼn paar jaar as klassieke kinderliteratuur gelys word nie, maar dit is gemaklik om meermalig te lees en die opvoedkundige beginsels word duidelik illustreer.

Henk Louw
Maart 2021