Saartjie

Kleuter-Ané se dagdroomwêreld

Ek hardloop na die derde boekrak in die middelste blok van die biblioteek. My hart spring amper uit my keel van geluk en my gloeiende wange hou die groot glimlag op my gesig vas. Daar staan hulle netjies gepak in die tweede laaste ry. Opgewonde om die sproetgesig dogtertjie met die bokstertjies na nog ’n week te sien, klap Trompie hande soos wat ek eerste aan sy blaaie raak. Saartjie knipoog vir my en vee ’n weerbarstige krul van haar voorkop af weg. My maatjies van Maasdorp wag geduldig dat my hand hulle ’n drukkie sal gee. Ek plof op die grond neer en raak weg in die storiewêreld.

Dit was ek ’n dekade of wat terug: Elke Woensdag na gimnastiek het ek en my ma hand-aan-hand na die biblioteek net oorkant die saal gehuppel. Vir haastige karre wat by hierdie gebou verbygery het, was dit net nog ’n gebou in die stad. Maar vir my, skaam-introvert-boekwurm-Ané was die gebou ’n ingang na die sprokieswêreld van my kinderjare.

Wanneer my voete by daardie deur ingestap het, was ek nie meer die stil dogtertjie wat pouses alleen gesit het en net haar toebroodjies as geselskap gehad het nie. Ek was ’n feëprinses wat drake verslaan en koninkryke gered het. Ek was Saartjie Baumann se beste vriendin wat saam met haar Lynnekom se seuns met modder gegooi het en poetse op Wiskunde onnies gebak het. Ek was Trompie se boesimvriendin wat saam met hom en die Boksombende in riviere geswem en kleilat gespeel het. Ek was hoofmeisie van Maasdorp wat nie geskroom het om die beste skoolpartytjies te reël nie. Ek het pouses saam met Sunette en Shani toffies geëet en oor Reënboogrant se nuutste skindernuus gepraat. Ek was deel van Die Uile wat skurke beter as die polisie self gevang het.

My verbeelding was heeltemal te groot vir die wêreld waarin ek as kind moes leef, tot ek die towerkuns van leesboeke ontdek het. Ek het in ’n ander wêreld geleef wanneer ek gelees het. Dit was net ek en die karakters in my storieboeke. Ek het al wat ’n kinderboek is gelees en al wat ’n reeks is in die hande gekry. As ek al die boeke wat ek gelees het se titels moet neerskryf gaan ek oor ’n jaar nog steeds besig wees.

So baie soos wat ek gelees het, so baie gunsteling boeke het ek gehad. Een van my gunsteling boeke wat ek as kleuter gelees het en nog steeds tot vandag toe amper woord vir woord onthou, is “Speeltyd vir Nellie”. Die boek het die storie van ’n klein dogtertjie, Nellie, vertel en wat sy elke dag van die week doen. Ek het die boek oor en oor gelees en dit was steeds elke keer ’n asemrowende ervaring. Ek het “Speeltyd vir Nellie” oral gelees: Voor ek gaan slaap, wanneer ek bad, wanneer my ma my hare geblaas het, in die kar op pad skool toe en terwyl ek gewag het vir etenstyd. Nellie was my beste vriendin.

Toe ek ouer word, omtrent op ’n 9-jarige ouderdom, het ek reeksboeke ontdek. My heel eerste reeks wat ek gelees het was die Saartjie-reeks. Dit het ’n gevoel binne my aangewakker wat ek nie kan beskryf nie. Ek het weke uitgesien na my verjaarsdag, Kersfees en ander geleenthede om die volgende boek as geskenk te kry. Daarna het ek al wat ’n reeks is gelees – Trompie en die Boksombende, Meisies van Maasdorp, Reënboogrant maats en -tieners, Die Uile, ensovoorts, ensovoorts. Ek sou so te sê my lewe daaraan wy om die boeke in die hande te kry – By die biblioteek, my ouers smeek vir ’n geskenk, self spaar om die winkels leeg te koop, boeke leen by maats en onderwysers – Die lys gaan aan.

Ek is dankbaar dat ek as kind grootgeword het met storieboeke en nie speletjies op ’n elektroniese skerm nie. Storieboeke is deel van wie ek is. My liefde vir lees het gegroei deur die jare en groei nog steeds. Daar is net iets aan die reuk van boeke. Elke kind moet lees. Dit is die een plek waar towerkuns nog bestaan.

Ané Smith
Ané is ‘n student in Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit. Sy het die verslag geskryf as ‘n tweedejaarsprojek.
September 2020
0
Would love your thoughts, please comment.x