“Danksy my ouma het my liefde vir lees ontwikkel en ek sal haar ewig dankbaar wees daarvoor!” Stephan Fanoy en ander jongmense vertel van die invloed wat ‘n oupa of ouma op hul belangstelling in stories en lees gehad het.
“Ek het op Dordrecht groot geword, en omdat die meeste van my maats op plase gebly het, was dit moeilik vir my ma-hulle om my die hele tyd na ‘n plaas toe te ry. Die kleuterskool wat ons daar gehad het, was ook net op Maandae en Vrydae oop gewees, so ek het maar die meeste van my tyd voor ek laerskool toe was by my Ouma-hulle op Warmbad spandeer.
Elke aand, as my oupa-hulle en ek nou klaar gebad het en ons klaargemaak het om te gaan slaap, het my ouma vir my stories gelees. Sy het so dik storieboek gehad, maar nie met al die bekende stories soos Rooikappie ens. daarin nie. Nee, die storieboek het stories gehad soos: Katinka Kuiken se Vakansie (wat ook my gunsteling storie in die boek was).
Elke aand het dieselfde begin. My ouma het gesê dat sy net een storie gaan lees en ek het gesê dit is reg. Na die eerste storie klaar was het ek haar gesmeek om asseblief tog net die volgende storie te begin lees. En na die storie het ek gesmeek om nog net een te hoor en so het dit aangegaan, totdat ons die hele boek deurgelees het.
En omdat ek elke aand die stories gehoor het, het ek hulle naderhand heeltemal uit my kop geken. As my ouma dit dan durf waag om ‘n woord verkeerd te lees of om woorde om te ruil, het ek haar reggehelp. Dit het my oupa altyd laat lag.
Elke keer as my ouma dan agterkom dat ek die boek uit my kop ken, het sy ‘n nuwe boek gekoop, sodat sy elke aand in vrede kon lees, sonder om deur ‘n bogsnuiter reggehelp te word. Een van my ander gunstelinge wat my ouma toe gekoop het was Tjoeke-tjoek, die Babatrein. En ek het naderhand almal in die familie na ‘n trein wat in die boek voorkom vernoem.
Later, toe ek so vyf jaar oud was, het my ouma toe vir my Storieman gekoop. Met die eerste uitgawe het hulle eers net die boek gestuur en my ouma het vir my daaruit begin voorlees, en ek het dadelik daarvan begin hou. Ek het die kasset eers gekry toe ek weer huis toe is en ek het dit oor en oor geluister tot my broer wou mal word daarvan! (Ons het toe nog ‘n kamer gedeel.)
Elke keer kon ek nie wag tot die volgende boekies en kassette gestuur word nie. En as dit gekom het, het ek eers die boeke deurgeblaai en my verwonder aan die pragtige prentjies, van die sinne gelees en dan het ek na die kassette begin luister.
Danksy my ouma het my liefde vir lees ontwikkel en ek sal haar ewig dankbaar wees daarvoor!” (Stephan Fanoy, 18)
“‘n Ervaring wat ek onthou van lees toe ek klein was is as my ouma by ons kom kuier het en ek in die oggend wakker geraak het, het ek by haar gaan inkruip met ‘n boek. Sy het dan vir my elke oggend ‘n stukkie uit die boek gelees en ek kon nie wag tot die volgende oggend om te hoor wat verder gaan gebeur nie. Ek dink my liefde vir lees het daar begin ontwikkel.” (Ellanie Smit)
“Toe ek omtrent drie jaar oud was, het my ouma probeer om my te leer lees deur ‘n kinderboek te vat en vir my dit voor te lees en dan moet ek dit lees. Alhoewel ek nie die swart goed op die papier verstaan het nie, het ek my ouma se woorde met die prentjies geassosieer.” (Jacques du Toit)
“Die lekkerste leeservarings wat ek as kind gehad het, was dié op my oupa en ouma se plaas, Drieklip, net buite Bothaville. Wanneer ek as kind by hulle op die plaas gaan kuier het, het ons elke oggend in die sonkamer gaan sit en lees. Ek kon die boek kies, en saam-saam het ons dan die storie gelees. My ojma kon die stories so werklik en wesenlik maak, dat dit my elke slag verstom het. My ouma het gepaste stemme vir elke karakter gehad. Die wolkf het ‘n diep basstem gehad en het selfs gegrom, terwyl die oumatjie se stem gebewe het van ouderdom. Ek sal altyd die ervarings koester.” (Marizanne Pretorius)
“My ouma-plaas het altyd vir my en my sussie die groot sprokies gelees en ek kan nog duidelik onthou hoe sy altyd gehuil het wanneer Heidi weer by haar oupa uitkom.” (Febé-Marié Potgieter)
“My ouma het altyd hope storieboeke gehad. Sy het altyd in die midde op haar bed gaan lê en storieboek lees. Ek het eers net by haar gaan lê, maar ouma wou nie gesels nie – toe begin ek maar lees. Hulle sê mos: “if you can’t beat them, join them”. Dit was naderhand soos ‘n reël: jy gaan lê nie langs ouma sonder ‘n storieboek in jou hand nie.” (Marlie Grove)
“Leeservarings wat my vir altyd sal bybly is dié van Alba Bouwer. My ouma het my aan haar boeke voorgestel, en as ek die dag nostalgies voel, lees ek gereeld nog die betowerende stories van Alie, Lulu en ou Meliete. Die stories wat my ouma aan ons vertel het, het my op die wonderlikste verbeeldingsvlugte gevat. Ons sou destyds net ‘n paar goed noem wat ons in die storie wou hoor, en dan wou sy daar en dan vir ons ons eie storie opmaak.” (Rolien Bisschoff)
“Van my mooiste herinneringe as kind, kom van die storieboeke wat ek gelees het die die mense saam met wie ek dit gedoen het. Ek onthou nog hoe ek op my oupa se skoot gesit het, en hoe hy altyd vir my die stories vertel het. Hoe hy vir my al die moeilike woorde, wat ek nie verstaan het nie, verduidelik het. En hoe hy my geleer het hoe om Engels te lees. Dit is seker herinneringe wat my sal bybly tot die dag wat ek doodgaan.” (Anton Coetzee)