Waar het julle grootgeword?
Nerine het in Heidelberg in Gauteng grootgeword en was vanaf die begin van haar hoërskoolljare in Pretoria. Alet is ‘n plaaskind (net soos Lindie). Haar ma het in Mpumalanga met Merinoskape en Drakensbergerbeeste geboer. Sy was in Breyten op laerskool en in Carolina Hoërskool.
Jy (Nerine) het die stories saam met Alet Steenkamp geskryf. Is dit makliker of moeiliker om saam met iemand anders aan ‘n boek te werk?
Dit is makliker om saam te skryf omdat ‘n mens mekaar ondersteun en uitdaag om verder te gaan en meer te doen as wat jy self alleen sou. Maar ook moeiliker omdat ons twee dan presies op dieselfde tyd beskikbaar moet wees om te skryf (en Alet se seuntjie is maar drie!).
Het julle ook sulke opwindende skooljare gehad soos Lindie-hulle?
Ons het ook albei lekker groepe maats gehad waarmee ons heerlike ervarings gehad het, maar gelukkig nie in soveel skelms soos Lindie-hulle vasgeloop nie, want daar was toe beslis nie so baie nie!
Waar kry julle julle inspirasie vandaan?
Party dinge het met onsself gebeur, van ander het ons gehoor , maar die meeste dinge in ons stories dink ons maar uit.
Hoekom vertel spesifiek Lindie die stories?
Ons het gevoel dit sal die lekkerste wees as ‘n graad 9-meisie self die storie vertel.
Omdat julle self onderwysers is, is julle soos enige van die onderwysers in die boek?
Ons hou baie van kinders, daarom hou ons skool en skryf ons boeke in hulle leefwêreld.
Party meisies voel baie soos Andrea: ek wens ek was meer soos die meisie voor my, mooi, lank, maer en getan. Wat sal julle vir daai meisies sê?
Andrea het haar eie unieke en spesiale persoonlikheid en vir haar vriendinne is sy kosbaar – juis omdat sy is soos sy is. Dink net hoe die storie sou gewees het as daar vyf Mia’s was!
Is daar enige nuwe boek waarna ons kan uitsien?
O ja! Ons vyfde storie is reeds by die uitgewers. Hierdie keer gaan die vyf vriendinne op die Franse toer Parys toe (nie in die Vrystaat nie!) en hulle kan maar nie uit die moeilikheid bly nie!