IMG_2779

Kuier by Riana Scheepers en Suzette Kotze

Riana Scheepers en Suzette Kotze is die samestellers van die Nuwe Kinderverseboek. Marisa Beeton het hulle 'n klompie vrae gevra.

Hoe het die idee vir die boek ontstaan?

Riana: Ja, dit was ‘n vreemde, unieke en toevallige sameloop van omstandighede. (Ek glo nie dit is so toevallig nie, die algehele Afrikaanse letterkunde was ryp, en het gewag vir hierdie boek!)

So het dit gebeur: Niël Rademan, sanger/ regisseur, het op ‘n dag vir my gevra of ek nie vir hom ‘n paar kinderverse kan aanbeveel wat hy moontlik kan toonset nie. En hy wou moderne verse hê – nie dié wat al eeue met ons saamkom nie. Ek het gaan kyk na die “Bybel” van kinderverse in Afrikaans, Opperman se Kleuterverseboek – en met die oopslaan van die boek by die kolofonbladsy toevallig opgelet wanneer dié boek die eerste keer verskyn het: in 1957.

Noem dit selektiewe waarneming, noem dit noodlot, maar die datum het my tot in my siel geskok, aangesien dit my geboortejaar is – met ander woorde ek en die boek is ewe oud – en ek (was toe) bykans 50! Vyftig! Dit het as ‘n skok gekom, omdat dit eintlik ondenkbaar is dat ‘n boek met kinderverse vir 50 jaar nie aangevul is nie! Hoekom het niemand dit gedoen nie! En WIE gaan dit doen as ék dit nie doen nie? Ek was meer geskok oor die ouderdom van Kleuterverseboek as my eie antieke status van ‘n halfeeu!

Net daar en dan het ek die doller as kop-af perd opgesaal en besluit: dit is hoog tyd dat die hedendaagse kleuter en kind ‘n nuwe, byderwetse, moderne kinderverseboek kry! En ék sal daarvoor sorg! (Ek kry soms sulke bevliegings.)

Ek het terselfdertyd besef dat dit ‘n mammoete werk sal wees, dat ek hulp (en baie daarvan) nodig sal hê. Omdat ek besef het watter groot werk dit gaan wees (want ek het toe pas die werk voltooi aan Die melkweg het ‘n ster laat val), het ek besluit om die slimste, kundigste en hardwerkendste mens wat ek ken, te vra om medesamesteller te wees – en daardie persoon is Suzette Kotzé-Myburgh.

Hoe het julle te werk gegaan om die gedigte bymekaar te kry?

Riana: Toe ek eers die besluit geneem het, het ek begeesterd aan die werk gespring, ‘n persverklaring en ‘n uitnodiging aan alle voornemende skrywers geskryf en dit aan alle denkbare publikasie en radiostasie gestuur. Ek het elke skrywer wat ek ken, gevra om ‘n kindervers te skryf, ek het vir vreemdes, vriend en vyand vir bydraes gevra, ek het selfs geluister na oorgelewerde kinderverse. Waar ek gekom en gegaan het, het ek mense gevra vir verse – en gekry!! Daar is ook ‘n groot aantal verse van skrywers wat my skryfskole deur die jare bygewoon het.

In kinderboeke is illustrasies uiters belangrik. Hoe het julle op Maja, Tamsin en Dale besluit?

Suzette: Ja, in ‘n boek soos hierdie is die illustrasies maklik net so belangrik soos die teks. Soos ek die boek aanvanklik gekonseptualiseer het, het ek gedink ons moet net een illustreerder gebruik. Dit het – gelukkig! – nie uitgewerk nie, aangesien die illustreerders wat ons die een na die ander genader het, beide nie beskikbaar was nie.

Toe raak die tyd kort (vir ‘n groot projek soos hierdie moet ‘n enkele illustreerder ten minste 5 maande tyd kry) en ek het besef ons sal die projek moet verdeel tussen drie illustreerders – wat toe ook gehelp het om die drie ouderdomskategorieë duidelik van mekaar te onderskei. Michelle Cooper, ons uitgewer by Tafelberg, het Maja Sereda “ontdek”, en Ann Walton, ‘n baie kundige vrou wat gereeld saam met illustreerders werk, het Tamsin en Dale aanbeveel. Oor Dale is ek veral in my skik, want ek wou graag sien dat ‘n vars jong talent ‘n kans kry om in ons boek te debuteer.

Wat van die illustrasies staan vir julle uit?

Riana: Ek is heeltemal begeesterd deur die sensitiewe, humoristiese en “whacky” werk van die nuweling Dale Blankenaar. Sy verse getuig van fyn waarneming, deernis en begrip van die verse – maar ek is ewe in my noppies met die ander twee illustreerders se werk wat wonderlik aansluit by elke ouderdomsgroep.

Suzette: Dale se oraje drakie op die voorblad het my hart gesteel – dis só moeilik om die regte omslag vir ‘n versamelbundel te kry, en sy konsep was met die eerste probeerslag perfek! Dan is Die Krikkelwander (p 10-11) deur Maja ook ‘n groot gunsteling, sowel as Ons hoenders het weggewaai op p 121 deur Tamsin.

Die boek is verdeel in verskillende ouderdomsgroepe. Het julle vooraf besluit dis hoe julle dit wil doen of het die gedigte wat julle versamel het dit bepaal?

In die brief wat skrywers uitgenooi het vir bydraes het ons net twee ouderdomskategorieë genoem, naamlik 2-4 jaar en 5-8 jaar. Soos die gedigte ingekom het, het ek besef daar is genoeg gedigte vir ‘n kategorie 8-10 jaar en toe het ek die bundel se indeling daarvolgens aangepas. DJ Opperman het natuurlik die luukse gehad om ‘n afsonderlike boek vir elke ouderdomsgroep te maak, naamlik Kleuterverseboek en Klein Verseboek. Ons boek is dus as’t ware twee in een.

Wat het julle gesoek in die gedigte, m.a.w. moes daar ‘n lewensles in wees ens?

Ag nee, wat, ek het nie in beginsel gesoek na ‘n lewensles nie. Kinderpoësie moet eerstens vonkel en knetter, dit moet die leser of toehoorder laat wriemel en dans van lekkerkry. Die vreugde en ontdekking van taal en woordspeling, die slim konstruksie van rym en ritme, die avontuur, die opwinding en die fantasie – dit staan vir my voorop. As die vers ‘n lewensles het, goed so, maar ons het beslis nie probeer om didakties te wees nie.

Was julle verras deur die reaksie van die bydraende skrywers?

O ja, beslis! Dit voel amper asof ons ‘n miljoen verse gekry het … ons het selfs van sommige digters ‘n volledige manuskrip gekry! Baie vrot gedigte ook, ja, natuurlik, maar oorgenoeg goeie gedigte en gedigte wat potensiaal gehad het.

Wat is die stand van kinderverse in Afrikaans? S

Riana: Daar is nie naastenby genoeg kinderpoësie in Afrikaans nie! En dit is nie dat ons ‘n tekort het aan talentvolle digters nie!

Suzette: Ek stem saam met Riana: daar is min GOEIE nuwerwetse kinderverse in Afrikaans. Dis ook waarom ek as uitgewer onmiddellik raakgesien het watter wonderlike idee dit is om ‘n nuwe kinderverseboek te doen – daar was regtig ‘n leemte in die mark wat lankal aangespreek moes gewees het. Uit my ervaring as keurder weet ek dat daar wel baie kinderverse aan uitgewers voorgelê word, maar daar is gewoonlik nie genoeg goeies om ‘n bundel te regverdig nie – dis regtig baie moeiliker om ‘n goeie kindervers te skryf as wat dit lyk! Omdat ons soveel inskrywings ontvang het (ver oor ‘n duisend), kon ons net die heel bestes uitkies.

Is hierdie boek die eerste in ‘n reeks?

Ek hoop so! Suzie, sien jy kans vir nóg so ‘n boek? Ek sien kans, maar net as jy weer deel van die span is. En ons weer dieselfde illustreerders het, én vir Teresa wat die bladuitleg gedoen het.

Ek hoop van harte so. Noudat ons die “resep” uitgewerk het, sal dit inderdaad nie moeilik wees om oor ‘n paar jaar weer so ‘n bundel te doen nie – ‘n mens volg net dieselfde proses. Hoe klink: Nuwe Kinderverseboek 2, Nuwe Kinderverseboek 3 . . .? Mooi, ne!

Hoe het julle twee as span saamgewerk, maw wie was verantwoordelik vir wat? R en S

Riana: Ek dink jy kan agterkom dat ek en Suzette merkwaardig goed saamgewerk het. Moenie ‘n fout maak nie – alles het nie die hele tyd voor die wind gegaan nie, ons moes ‘n paar monsters beveg voordat die boek uiteindelik goed en gaaf en lieflik op die tafel gelê het! Maar as ek moedeloos geraak het, dan was Suzie kalm en wys en doelgerig; ek dink die paar keer dat sý moedeloos was, het ek die walkure in my voel roer. Ons is bewus van ons onderskeie talente en sterk punte, en het mekaar daarin aangevul. Die belangrikste is dat ek oneindige respek het vir Suzette se integriteit as redakteur.

Suzette: Ons het reg aan die begin afgespreek dat Riana verantwoordelik is vir die werwing van die gedigte (en met haar hoë profiel en groot adreslys het ons ‘n fantastiese aantal inskrywings ontvang) en dat sy ook die voortou neem met die bemarking. Dit was my taak om die boek aan uitgewerskant te hanteer. Nadat ons elkeen al die voorleggings gelees en ‘n kortlys opgestel het, het ons ons lyste vergelyk en die finale lys opgestel. Van daar af het ek die samestelling hanteer: die struktuur van die bundel vasgestel en al die hofies uitgedink, die indeling van die verse in elke afdeling, opstel van die onderwerpelys agterin, die teksversorging en korreksies, en dan die bladuitleg en skakeling met ons uitstekende boekontwerper, Teresa Williams.

Hierdie onderhoud het oorspronklik in die Rapport van 7 Junie 2009 verskyn. Marisa Beeton het die vrae gestel
0
Would love your thoughts, please comment.x