Leon de Villiers se jeugroman, Die pro, vertel Tiaan se storie, van “die jaar waarin hy sewentien word en waarin hy leer om met ’n groot verlies saam te lewe”. In 2015 is hierdie roman wat oorspronklik in 1997 verskyn het, verfilm, met onder meer Edwin van der Walt, Reine Swart en Bennie Fourie as akteurs. De Villiers beantwoord ’n paar vrae met betrekking tot sy roman se tweede lewe.
Watter skrywers (of ander kunstenaars) inspireer/beïnvloed jou?
Skrywers of kunstenaars wat hulle eie stem het, inspireer my. Ek wil geen spesifieke persoon uitlig nie, want dit kan van week tot week wissel.
Het jy sekere skrywersrituele, soos om elke dag te skryf, te skryf terwyl jy iets spesifieks (rooiwyn, rooibostee) drink, op ’n sekere plek te sit, ensovoorts?
Nee. Behalwe dat ek verkies om soggens te skryf en dit saans te hersien.
Hoe ontdek en ontwikkel jy ’n storie? Is dit meer ’n kwessie van wanneer inspirasie jou pak, of kies jy hoofsaaklik jou storiemateriaal bewustelik?
Die bewuste en die onbewuste loop hand aan hand. Ek vind dat die grootste sukses is wanneer albei definitief betrokke in my skryfproses is. Dit kan egter van storie tot storie verskil oor watter deel neem die leiding.
Hoe het jy as skrywer aspekte soos tienertaal en -gewoontes nagevors toe jy Die pro geskryf het? Het hierdie metodes verander tussen die verskyning van Die pro en, byvoorbeeld, Toko?
Toe ek Die pro geskryf het, het ek pas opgehou skoolhou en was ek nog duidelik bewus van die tienertaal van die tyd. Verder het ek gesorg dat ek genoeg met tieners gesels. Tienertaal is egter ’n lewende entiteit wat voortdurend verander en sekere woorde kan verouderd raak, daarom het ek met die skryf van Toko ’n fiktiewe gemeenskap gekies waarin die taal nie met die tyd saam sou verander nie. Met die gebruik van ’n fiktiewe gemeenskap moet die skrywer egter steeds sorg dat die taal so ‘realisties’ moontlik moet bly. Dit moet pas in die omgewing waarin die storie afspeel.
Oor die draaiboek van Die pro: Was jy betrokke by die draaiboekskrywers se skryfproses? Daar is aansienlik groot verskille aangebring in die draaiboek van die fliek, veral in terme van Yvette en die Lawrence-familie se betrokkenheid by Tiaan.
Tiaan van Niekerk wat die draaiboek geskryf het en ook een van die vervaardigers van die film is, het my van die eerste draaiboekweergawe af, ten volle op hoogte gehou. Ek het besef dat hy veel meer weet as ek van draaiboeke en het dus grootliks net ondersteunend opgetree. Hy wou so naby as moontlik aan die boek bly, maar ons het albei besef dat dit nie gaan werk nie. Karakters moes verminder word en om ’n sekere essensie te behou, moes sekere karakters gekombineer word. In die boek is die fokus op die karakter se innerlike reis na aanvaarding en berusting, maar die film bied natuurlik geleentheid om die ‘surf’ aspek baie meer dramaties te belig. Na alles bly die see ’n geweldige visuele ervaring.
Is daar elemente (of spesifieke tonele) in die film waaroor jy voel die film het iets weggeneem (of verbeter) van die roman?
Dit is juis die ‘surf’ element wat die film uitstekend uitgelig het. Die hele afskeid van Dirkie in die see is ’n uitstekende byvoeging tot die storie.
Kon jy met die akteurs kommunikeer oor die aard van hul karakters of was dit hulle eie verantwoordelikheid om die karakters te vertolk?
Nee, ek het my neus uit die akteurs se sake gehou. Ek het al voorheen gelees dat skrywers wie se boeke verfilm is, van mening was dat die skrywer hulle so ver as moontlik moet distansieer van die hele verfilming proses. Dis dalk anders as die skrywer ook die draaiboek geskryf het.
Wat behels die veranderde weergawe van die roman wat gepubliseer is? Is dit bloot die voorblad of het die storielyn soos die film s’n verander?
In die nuwe weergawe is die voorblad verander en het ons ook probeer om die taal en gebruike op datum te bring. Die boek is byna 20 jaar in druk, so sekere dinge het beslis verander. Die storie is egter presies net so gelos. Na alles is ’n film en boek altyd twee verskillende weergawes van een kernstorie.
Wat is jou algehele sentiment rondom die verwerkingsproses van ’n roman na film? Was dit ’n positiewe ervaring, was dit negatief?
Dit was ’n baie positiewe ervaring. Tiaan en sy mede vervaardigers het my en die boek altyd met die grootste respek hanteer en ek het natuurlik bewondering vir hom/hulle wat bereid was om die hele proses met soveel deursettingsvermoë aan te pak. Dit was natuurlik ook vir my ’n wonderlike leerproses oor draaiboeke as sulks.