Lien se lankstaanskoene

Lien se lankstaanskoene (lusmaker)

Derick van der Walt
Tafelberg

Hy krap ongeduldig in die laai rond. Hy soek die kasset met die blou plakkertjie. Sy gunsteling. Glimlag toe hy dit raakvat. Hy druk dit in die videospeler en raap die koffiebeker van die vloer af op sonder om sy oë van die televisieskerm te haal. Hy druk die speelknoppie en lê agteroor in die stoel. Hy vat ‘n slukkie koffie. Glimlag.

Die dogtertjie trap water in die middel van die swembad. Met een arm klou sy aan ‘n geel opblaaseendjie, met die ander beduie sy wild. Sy praat met iemand buite die beeld. Haar nat hare klou aan haar voorkop. Die video het geen klank nie. 
Die kameraman is duidelik ‘n amateur Die beeld kantel na links, dan regs, zoem rukkerig in op die dogtertjie se gesig. Die dogtertjie se mond beweeg aanmekaar. 
Dit lyk asof sy opgewonde iets vir iemand buite die veld vertel. Sy is haasbek.
Die kamera beweeg na links waar ‘n seuntjie op die rand van die swembad agter twee hondjies aan hardloop. Hy het ‘n rooi swembroekie aan. Sy swart krulhare is deurmekaar en met sy twee stewige beentjies stamp hy kwaai op die grasperk. 
Dis ‘n swart hondjie en ‘n wit hondjie, albei so twee bakstene hoog. Hulle hardloop voor die seuntjie uit, maar gaan kort-kort staan en draai om. Hulle stertjies waai en hulle blaf opgewonde maar geluidloos.
Die seuntjie verloor belangstelling in die hondjies. Hy stap tot op die rand van die swembad. Die kamera volg hom rukkerig.

lusmakers
0
Would love your thoughts, please comment.x