Spore in die Arep

Spore in die Arep

Marie Reyneke
Human & Rousseau

“Nee flippit, man! Jy gaan ons verongeluk!”
Wessel skop met albei sy nommer tiens onder die paneelbord vas en gryp wild na vashouplek, terwyl dit voel of die jeep vir die soveelste keer gaan gat omgooi teen die opdraande. Klippe kraak onder die beurende bande en spat knersend onder die wiele uit toe Jurgen die petrolpedaal dieper intrap en die voertuig met ‘n onverwagte swaai weer lyfgee vir wat veronderstel is om ‘n pad te wees. Die spul agterop die bak protesteer gilled. 
Jurgen Pieterse grynslag, maar sy bruingebrande arms wat by sy kakiehemp uitsteek, stoei steeds met die stuurwiel. “Dis die Klein Karasberge die, ou. Wat het jy verwag? Teerstrate?” Hy stoot sy vingers vinnig deur sy kuif voordat hy die stuurwiel weer met mening pak. 
Wessel verwerdig hom nie om te antwoord nie, en probeer homself klein maak in die beknopte kajuit van die jeep. Dit was so hittete of sy kop was teen die dak. hy loer deur die agterruit en sien hoe die ander vier half bo-op mekaar beland het, en nou sukkel om weer balans te kry. “Hou aan die tralies vas!” roep hy deur die oop ruit. 

lusmakers