Leo trap amper op die skerpioen voor hy hom raaksien. Die gedierte, langer as sy hand en oranjerooi soos die woestynsand oral om hom, skuil in die skraal skadu van ‘n verskrompelde bossie. Hy het geskrik toe Leo naby hom van die rots af spring, en toe homself weggegee deur vinning om te draai. Met sy stert krom hoog bo sy lyf, kyk hy die seun onheilspellend aan. Die waarskuwing is duidelik; Kom nader en jy’s dood!
Leo versteen. Die skerpioen se stert is dik met ‘n haakvormige angel aan die punt. Daarteenoor lyk sy knypers dun en swak.
Dis nie ‘n skerpioen waarmee jy mors nie.
Dik stert en dun knypers beteken sterk gif. As daai soort skerpioen jou steek, is dit verby met jou. Dis die raad wat Dawie aan Leo gegee het toe hulle twee weke gelede in Nambië aangekom het vir die Sterrekundeklub se jaarlikse Stertrek.
Leo is twaalf en ‘n half, en nie onnosel nie. Hy gee ‘n tree terug. “Oukei, laat sak daai stert. Ek sal padgee.” Hy klim op ‘n rots en kyk hoe die dodelike gedierte sy stert laat sak en dan oor die sand wegskarrel en by ‘n gat in verdwyn.
Bokant hom bak die middagson neer uit die wolklose lug. Dit brand die agterkant van sy nek, sy arms en bene, en versmoor die landskap met genadelose vuurkrag. Niks beweeg nie. Die enigste klank wat die stilte onderbreek, is sy asemhaling. Die lug het ook moed opgegee; dis so stil soos klip, en kon net sowel dood gewees het. Alleen in daardie groot stilte aan die onderpunt van daardie rooiwarm koppie in die middel van die Namibwoestyn, voel Leo of hy die laaste lewende ding op aarde is.
Dit laat hom ril.