Nova -Vuurdoop

Nova -Vuurdoop

Fanie Viljoen
LAPA

Dit voel soos ‘n lem in Lucas se bors. die skerp koue skiet deur sy lyf. Sy asem ruk. 
 “Uhm, ‘skuus, is dit ‘n bietjie koud?” vra dokter Moja. Hy glimlag asof dit sy private grappie is om mense te laat skrik as hy die stetoskoop op hul vel druk. “Asem in … uit … hmmm …” Dokter Moja skuif die stetoskoop oor Lucas se borskas. Lucas wens hy wil nou klaarmaak. “Sit vorentoe. Asem in … uit … weer …” 
 “Alles reg, Dokter?” vra Lucas. 
 “Ek sien geen fout nie, Luc. Jou ma is verniet bekommerd.” Lucas skud sy kop “Dis wat ek haar gesê het, maar sy gaan mos ballistic oor alles.” 
 “Dis wat ma’s doen, Luc.” Dokter Moja gaan sit agter sy lessenaar en begin iets skryf in die lêer voor hom. “Ek sou ook bekommerd gewees het as my kind deur ruimtewesens ontvoer is.” 
 Dit klink nog so onwerklik – dat ruimtewesens Luca en sy vriende ontvoer het – maar gelukkig is dit nou verby. Hier sit hy in die spreekkamer, perdfris en gesond. 
 Dokter Moja skryf steeds. Lucas loer na die verslag, maar die dokter se skrif is so lelik, hy kan niks uitmaak nie. 
 “Kan ek nou maar my klere aantrek?” vra Lucas. 
 “Ja, ons is klaar.” 
 ‘n Rukkie later stap Lucas uit die spreekkamer na die ontvangsarea. 
 “En?” vra sy ma toe sy opstaan van die stoel. ‘n Diep frons plooi haar voorkop. 
 “Die dokter sê ek is oukoei, Ma. Daardie aliens kan nou maar kom, ek sal hulle dié slag platklap.” 
 “Moenie spot nie, Luc.” 
 Lucas glimlag skeef en trek sy vingers deur sy blonde hare. “Hoe lyk dit, gaan Ma my nou stick vir ‘n Coke?” 
 Sy ma skud haar kop. “Selfde ou Lucas, die kansvatter. Ek wens daardie ruimtemannetjies het vir jou …”

lusmakers
0
Would love your thoughts, please comment.x