Nathalie kyk verveeld na die skilderye van die proteas in ‘n bruin vaas teen die hotel sitkamermuur. Dit gaan weer ‘n lang middag wees. Sy weet sommer.
“Braniwalia. Twee opmekaar.”
Tannie Lettie hou die leë glas na Nathalie uit sonder om haar oe van die dokument voor haar op die tafel te haal.
“En sê vir Lukas meer ys.” Sy vat ‘n handvol grondboontjies en rosyne uit die bakkie voor haar op die tafel en druk dit in haar mond. Kou ingedagte terwyl sy lees.
“Wat van jou, sista?” Tannie Lettie lig haar kop en kyk kouend na die skraal donkerkopvroutjie wat met haar hande agter haar rug gevou staan. Sy staar stip deur die Rose and Crown se venster na Hoopvol se hoofstraat.
“Laetitia, ek vra: nog ‘n wyntjie?” vra tannie Lettie.
Die vroutjie voor die venster reageer nie. Haar smal skouers hang. Die gesiggies is stroef agter die swartraambril.
“Bring vir sista nog ‘n wyntjie met ys on the side,” sê tannie Lettie vir Nathalie.
“Ek moes eintlik al gegaan het. Dis al ná ses,” sê Nathalie stug.
“Nathalie, Nathalie . . .” Tannie Lettie leun met haat groot lyf agteroor en sit die dokument voor haar op die tafel neer. Stop nog ‘n handvol grondboontjies en rosyne in haar mond.
Sy bekyk Nathalie kou-kou op en af. ” Toe ek jou by die Rose aangestel het, het ek nie gedink jy’s die nine-to-five-meisie nie.”
Sy draai na Laetitia, wat steeds fronsend na die dorp se hoofstraat staan en staar. “Sista, ek sê …”
[Sanlam Boekprys (Goud) 2011]