“Kyk waar jy loop, moroon!”
Ek swaai om. Niemand noem my ‘n moroon en stap weg met al sy tande nie. Beslis nie ‘n grootbek in ‘n groen bakkie vol duike nie.”Wie’s jou moroon?” skel ek en skop na sy wiel. “Kyk jy liewer waar jy ry, dofkop!”
Hy swaai sy vuis deur die oop ruit. “Jy storm net oor die pad sonder om eens te kyk! Wat’s jou probleem, airhead?”
Airhead? Nóú gaan hy te ver gegaan. Ek plak die stapel bokse voor die bakkie se neus neer en marsjeer na die venster. “As jy jou oë oopmaak en die kennisgewings lees, rotsgesig, sal jy sien geen voertuie word hier toegelaat nie! Nie dat I mens hierdie ding I voertuig kan noem nie.”
Hy leun op sy regterarm by die venster uit en lig sy sonbril. Dadelik begin my voete sweef. Ek oordryf nie, dis die ongelooflikste paar oë wat ek al in ‘n menslike gesig gesien het. Gode, ja, engele selfs, was dalk al geseën met sulke stukkies hemel, maar geen gewone aardling nie.