Maandae is soos wanneer jy gaan kamp en met ‘n leeu in jou tent wakker word. Al hoe jy kan oorleef, is om onder die beddegoed weg te kruip en daar bly lê sonder om enige skieklike bewegings te maak tot dit Dinsdag is. Want as jy probeer opstaan, loer Maandag vir jou en lek sy lippe af in afwagting.
Soos vandag.
My selfoon se wekker lui, ek kreun en druk my gesig met my arms toe. Ek wil dit afsit, maar die foon het iewers onder die bed ingeval, en ek is nie lus om op te staan en dit te soek tussen al die klere wat ek te lui is om weg te pak nie.
Ek druk my kussing oor my ore om die wekker se geraas stil te maak en knyp my oë styf toe totdat ek iemand aan my beddegoed voel trek.
“Opstaan, Helena! Ek het belowe ek sal jou by die skool kry.” My ouer broer, Henk, wat in matriek is in ‘n ander skool as ek, ignoreer my gebrom en pluk die verbleikte kombers uit my hande sodat ek moet opstaan.
“Ek is siek,” kla ek en hoes oortuigend toe hy by my kamer uitloop. Dit was partykeer genoeg om my ma te oortuig ek moet by die huis bly, maar vandat sy moes begin werk het, ry sy en Pa al soggens voor ek opstaan.
“Ek het koors,” roep ek flou agter Henk aan, en dan skree ek nog harder, ingeval hy nie gehoor het nie. “KOORS!”