Die ou wat besluit het om hierdie plek Vaalberg te noem, het sweerliks iets gerook.
Cobie sit op die voorstoep van ouma Anna se huisie en kyk na die dorpie wat rustig in die oggendson lê en bak. Daar is nêrens ‘n berg in sig nie, en die dorp met sy bont vissershuisies is ook allesbehalwe vaal. Cobie grinnik. Miskien het die ou wat die dorp sy naam gegee het, bedoel die plek is vaal en vervelig. Dan was hy beslis reg.
Hier bly nie baie mense nie en soos dit vir hom lyk, is almal op die dorp op ‘n manier familie van almal. Dis ‘n niggie-trou-met-neef-dorpie dié.
Cobie strek hom uit en tuur na die visserrbootjies wat soos ‘n ry miere die seewater binnevaar. Dit is ‘n windstil somersdag. Die vissermanne gebruik vroegoggend die lekker weerstoestande om ‘n paar krewe te vang. Die buitebordenjins se gedreun kom oor die water aangesweef.
Cobie het maande lank uitgesien na die Desember-vakansie, maar om ‘n paar weke by oumie Anna aan die Weskus te kom bly, was beslis nie deel van sy vakansieplanne nie. Hy sit hier op Vaalberg terwyl sy ouers iewers vakansie hou. Hy is nie eers seker waarheen sy ma-hulle dié keer is nie, maar hy het die boodskap duidelik verstaan dat hy nie welkom is om saam te gaan nie.
Maar nou ja.
Sy protes is met meer as genoeg kroon gestil en hy moes maar sy lippe zip.