Doef!
En daar lê die buurvrou op die naat van haar rug tussen klomp suurlemoene. ‘n Doodse stilte heers. ‘n Mens kan die gras hoor groei.
“Hoe…? Wat…?” stamel ek.
“Sy’s dood!” Jy’t haar doodgegooi!” fluister Brunhilde. Sy’s so wit soos ‘n vadoek wat in Jik gewas is. “Net toe jy gooi, toe storm sy uit. Jy’t haar doodgegooi!”
“Dis onmoontlik!” My stem klink bewerig. “Jy kan nie iemand met hierdie papskilgoed doodgooi nie!”
“Jy’t haar seker in die regte plek gegooi…”
Die een oomblik is ek Dale Steyn, wêreldklasbouler, die volgende oomblik lê ‘n vrou leweloos op die veld. Dis hoe hierdie hele sage begin het. Hierdie sage van koop verloor oor ‘n moord per suurlemoen. Van ‘n gesteelde Gold Wing. Van Russiese akteurs. Van ‘n Romanof-prinses met ‘n veel gesoende handjie. Van getikte dwelmoperateurs. Van vergeefse liefde…
Maar laat ek begin by die eintlike begin.