Party dae dink ek ek bly in ‘n malhuis.
“Ma, Pa, Brent! Ek gaan laat wees vir skool!” skree Lana, my jonger sussie.
Sy staan al by die voordeur en wag vir ons. Sy raak altyd paniekerig as dit lyk asof ons laat gaan wees vir skool, want sy is vrekbang vir haar graadsewe-onnies. Ek wil haar nie volgende jaar sien as sy saam my in die hoërskool is nie. Dán gaan sy stres!
Ek kan nie ‘n dinges omgee of ek laat is vir skool nie. Eintlik dink ek dit sal cool wees, want dan mis ek wiskunde.
My ma skarrel nog in haar kamer rond. Ek hoor haar kreun omdat die bloes wat sy vanoggend wou aantrek in die wasgoedmandjie lê. “Ek kon sweer ek het die ding gewas.”
“Trek Ma se geel bloes aan,” hoor ek Lana, steeds by die voordeur, raad gee.
“Geel laat my soos ‘n gifappeltjie lyk!” roep my ma terug.
Ek pluk my bed vinnig reg, skop ‘n paar goed onder die bed in en sit my kitaar versigtig terug in sy kas terug. Die plakaat van Morné Steyn in sy Springboktrui trek altyd los by die een hoek. Ek druk die Prestik vas teen die muur, al weet ek dit gaan vanmiddag weer los wees.