“Down, down, down!” roep almal om my. Decker se stem klink harder as die ander sʼn op. “Komaan, Trent!”
Dis mos nou hoe jy ʼn week onder die agterent skop en ʼn Vrydagaand vier. Dis boonop die April-skoolvakansie.
My pa-hulle is weg na ʼn werksfunksie of ʼn ding by Sun City, waar hy die een of ander prys vir Man van die Jaar gaan ontvang. Hy is ʼn mediese rep. Dis ʼn fênsie naam vir iemand wat dwelmmiddels wettiglik aan apteke smous. Maar dit is nie so belangrik nie. Wat belangrik is, is dat hulle weg is en dat ek hierdie paar dae kan maak soos ek wil.
My ma het dit natuurlik geweet. Dit is hoekom ek net ʼn deel van die huis het My ma het hulle kamer en die spaarkamer gesluit, want sy was bang ek hou ʼn massiewe partytjie en dat my pelle die kamers sou gebruik vir allerhande soorte hormoongedrewe vermaak.
My ma was egter verniet bekommerd. Daar gaan nie ʼn partytjie by ons huis wees nie. Ek weet dit is mal. Watter ou kry só ʼn kans en laat dit net verbygaan. Dis darem nie asof ek ʼn totale lafaard is nie. Daar ís ʼn partytjie, maar dit is nie by ons huis nie. Dit is by Decker sʼn.
Dis waar ek nou is.
“Down, down, down.”
Ek sluk aan die bier. Dit loop in strome langs my mond af en drup op Decker-hulle se vuil sitkamermat of beland op my T-hemp. Die vloeistof wat dit tot in my keel maak, is koud en bitter. Dit voel of die blik nooit gaan leeg word nie, maar uiteindelik is dit en kan ek die ding tussen my hande platdruk en hardop burp.
Decker lag dat jy net tande sien. “Trent, jou ou yster!” roep hy. “Nog een!”
“Nee,” keer ek. “Dis nou iemand anders se beurt. Ek nomineer vir Charlie!”
“En blik bier, geen probleem nie,” sê Charlie. “Twee ook nie.” Hy het eintlik al genoeg gehad. Hy staan stadig op en trap wankelend rond toe hy ʼn blik uit die sespak haal.