Gabriel kreun en roer sy skouers. Verdorie, wat gaan
aan? Sy regterwang lê platgedruk teen ‘n growwe oppervlak en sy arm is
onder sy lyf ingevou, skeef, asof hy soos ‘n vrot vel neergesmyt het.
Hy byt op sy tande, trek sy arm onder hom uit en druk hom orent
op sy elmboë. ‘n Vlaag naarheid skiet deur sy lyf sodat hy moet sluk om
nie op te gooi nie.
Die vloer voel klam onder sy handpalms en die lug ruik muf en
suur. Boonop is dit so donker dat hy skaars ‘n tree voor hom kan sien.
Beslis nie een van die plekke waar hy gewoonlik kom nie.
As hy moet raai, is hy iewers in ‘n kleder. Maar hoe?
Flentertjies onthou syfer deur sy gedagtes.
Sy veertiende verjaarsdag. Die spoggerige jagmes wat sy pa as
geskenk langs sy bed gelos het. Hy en sy maters wat weglê aan die
watertandfees wat Kok voorberei het. Ertjiesop … Varkvleis …
aartappels. Sy maag het later gepyn.
Hy het hom ooreet, die dat hy nou so goor voel. Maar dit verklaar nie die vreemde plek waarin hy homself bevind nie.