‘n Yskoue sweetdruppel hardloop teen Clayton Goliath se rug af terwyl hy na sy kamervenster staar. Sy vingerpunte begin skielik te prik.
Aan die ander kant van die glas huil die wind deur die groot ou boom se takke, wat soos knopperige monstervingers teen sy kamervenster tok-tok.
Jy’s dertien, nie meer drie nie, Clayton, sê hy oor en oor in sy gedagtes. Dis alles net sy verbeelding, probeer hy homself troos.
Maar sy oorverdowende hartklop oorreed hom gou die boom met die growwe bas, wat lyk of dit asemhaal, is nie slegs ‘n drogbeeld in sy kop nie.
Die takkie wat teen die ruit kap, begin groei tot dit soos ‘n klou met lang, skerp naels lyk. Nog een verskyn. Die boomvingers begin wild oor die ruit kriewel, en dan sien hy die ding wat hom soveel nagte laat wakker lê…