Dans Jenna

Dans Jenna

Noreen Nolte
Lapa

Jenna sien al van ver af die plakkaat teen die kerksaal se aansteekbord. Sy trap vinniger en swaai reg voor die bord van haar fiets af.
       “Die Sint Petersburg Ballet,” lees sy hardop. Haar oë steek op die foto vas, en sy lees nie verder nie. “Sjoe…” fluister sy bewonderend.
        Hoewel die ballerina nie juis in ‘n asemrowende posisie staan nie – sy is eenvoudig op haar pointes gebalanseer – is elke sentimeter van haar perfek swaan. Dit is ongelooflik mooi!
      “Haai, Jen!”
       Jenna skeur haar oë weg en kyk om. Dis Jani wat soos ‘n mal ding aangehol kom, haar rugsak hoppend op haar rug en haar blonde krulkop windverwaai.
       “Flippet, dis warm, né? Vandag sweet ons weer! Vir wat staan jy so en droom? Ek … wow …” Jani gaan staan doodstil – iets wat nie gereeld gebeur nie. Haar oë is ook vasgenael op die advertensie. “Sjoe, dit is pragtig!”
       Die twee maats staan saam en staar na die plakkaat.
       “Sint Petersburg Ballet. Junie by die Kunstekaap in Kaapstad,” lees Jani hardop. “Verbeel jou …” Sy kyk nog vir ‘n oomblik droomverlore na die foto.

lusmakers
0
Would love your thoughts, please comment.x