Wat jy met jou vrye tyd doen, verklap baie van jouself, dink Hanna terwyl sy deur die mieliepap op die stoof roer. Sy sal vanoggend die nuwe kandidate daaroor uitvra as sy onderhoude met hulle voer. As sy eers dít van die kandidate weet, weet jy watter soort mense hulle is en hoe hulle by die maatskappy se kultuur sal inskakel.
Sy glimlag vir haarself toe sy die lepel neersit. Om die regte persoon in die regte pos te plaas, dis haar passie. En al moet sy dit self sê, sy is al ’n meester daarin.
Sy kry die Nespresso-masjien aan die gang voor sy die kinders gaan wakker maak. Die gang is donker. Dis nog net middel herfs, maar die oggende swig klaar voor die Kaapse winter. ’n Strepie lig spoel onder Divan se kamerdeur op die gangteëls uit en sy klop saggies voor sy ingaan.
Hy sit vooroor gevou in sy skoolklere op sy opgemaakte bed, besig om sy boeke in sy skoolsak te pak.
Kamma kwaai kruis sy haar arms voor haar bors.
“Wie is jy en wat het jy met my seun gedoen?”
Sy oë is blou poele toe hy opkyk. ’n Glimlag pluk aan sy mondhoeke.
“Ek was vroeg wakker.”
“So wonderwerke gebeur nog?”
Die sluimerende lag vou oop oor sy gesig. “Lyk so.”
“Kan jy nou meer!” Sy strek haar hand uit om sy hare deurmekaar te krap, maar hy koes weg.”
Terug in die kombuis skink Hanna haar koffie en leun daarmee teen die kombuiskas. Wat sou Divan so vroeg uit die vere hê?