Baster kyk deur sy eie bloed na die wêreld om hom. Killer het hom vir die soveelste keer aan sy nekvel gegryp en neergegooi en trap hom nou met sy voorpote teen die grond in die gevegsput vas.
“Byt hom vrek, Killer!” moedig Scar sy hond aan. “Wat gaan aan met jou?”
“Hêppie is te vriendelik om te baklei,” hoor Baster weer Poppie se stem, asof sy ook na die geveg staan en kyk. Toe sy dit gesê het, was sy naam nog Hêppie. Haar gesig doem voor hom op: Hy sien steeds haar oopmond lag en haar genesende hande.
Poppie Grootboom was sy eerste mens.
“Enige hond met so ’n naam ,” het Veronica kole op die vuur gegooi, “sal anyway altyd afgeknou word. Wat as die hondemanne hom teen hulle honde wil laat fight?”
Poppie het vasgestaan. “Tjommie, sy naam is Hêppie en klaar. Hy is ’n New Year’s puppy en hy smile altyd, nes ek, maak nie saak wat gebeur nie. Sien jy? Ek sal my foksie nooit laat fight nie.”
“Dan sal ons die hondemanne moet laat ophou met die fights,” het Veronica gesê. “Ons sal hulle moet laat stop. Voordat hulle al onse honde laat vrek byt.”