Dit is ’n regte Kaapse wintersdag: trietsig, met vlae reën wat neerval. Helena kyk hoe die reëndruppels mekaar rukkerig oor die ruit jaag. Sy laat sak stadig haar voorkop tot teen die koue ruit.
Die flikkerlig tik-tik skielik hard in die stil kar en Ma draai af. Sy ry tot reg voor die winkelsentrum se ingang en laat dan die kar luier.
“Ouma het gesê sy wag vir jou in Mugg& Bean, en sy bring jou ná die tyd huis toe. Is jy seker jou foon is gelaai? En het jy nog genoeg lugtyd?”
Helena onderdruk ’n sug oor die nimmereindigende instruksies. Regtig, sy is sestien! Maar sy is nie lus vir skermutseling nie.
“Ja, Ma,” antwoord sy, leun oor en gee haar ma ’n piksoentjie op die wang. “Sien Ma later.”
Helena klim uit en maak die kardeur verlig toe. Sy asem die skoon gewaste lug in en ’n heerlike gevoel van vryheid spoel oor haar. Ma trek met ’n wuif weg, en Helena kyk die kar vir ’n oomblik agterna. Jinne, haar ma lyk so klein en alleen met die wegry…