Dit is Max wat my beddegoed oplig, met skurwe ysblokvoete bo-oor my klim en teen my kom lê. Hy druk sy krullebolkop onder my ken in, soos hy altyd maak wanneer ek sy warmwatersak moet wees.
“Nouth dit koud,” lispel hy teen my sleutelbeen, want ons het gistermiddag, net nadat ons by die piekniekplek aangekom het, sy boonste voortand losgewikkel en uitgepluk gekry.
“Hoekom is dit nou so vrek koud?” Dié keer fluit hy sy “s’e” lekker, sommerso vanself, en skerper as Richie s’n.
“Omdat die nag altyd die heel koudste is voordat die dag breek.”
Ek hoor sy hand oor die stokkies en klippies op die grond langs my matras. Hy is heeltemal te wakker vir dié tyd van die oggend.
“Bethie, jou matras en die grond is ewe koud.”
Ek raas in ’n fluisterstem met hom.
“Praat sagter. Wil jy hê die bobbejane moet ons hoor? Raak asseblief nou rustig. Dan word die matras dalk warm.”
“As my bloed koud is, kan ek nie ’n matras warm…”
Dan dring my vraag tot hom deur.
“Bobbejane? Mamma het dan gesê die dinges-bobbejaan…”
“Die Kaapse bobbejaan…”
“Nee, man, Bethie. Mamma het gesê die chacma-bobbejaan. Mamma het gesê hulle slaap in die nag.”
Ek wikkel my voete weer onder my beddegoed in.
“Kaapse bobbejane is chacma-bobbejane, Max. Maar luister nou mooi vir my. As daar bobbejane hier naby slaap, in grotte of rotsskeure, kan hulle wakker word. Ek dink jy moes dalk liewer in die kombi geslaap het, soos Richie.”