Losprys in Parys

Losprys in Parys

Nerine Ahlers
LAPA

’n Ysterhand klem om my boarm, dwing my om meer links te loop, uit die vinnig bewegende stroom mense op die sypaadjie, straat se kant toe.

“Nie ’n geluid nie.”

Die stem is laag en dig by my oor.

My oë flits oor die mense op die breë sypaadjie wat net aanloop. Kan hulle nie sien wat gebeur nie?

Dan val my oë op die bruin motor vier tree voor ons wat op die laaisone teen die sypaadjie staan. Die deur skuif oop en toe ons by die motor kom, leun ’n man vorentoe en steek sy hande na my uit.

“Neeeeeee!” Ek gil lank en uitgerek.

Die hand op my arm verslap vir ’n oomblik. Ek ruk los en stamp wild ’n pad tussen die mense op die sypaadjie oop tot by die tafeltjies en sambrele van die restaurant op die hoek.

“Dienkie! Ek het gesien wat gebeur het. Is jy oukei?”

Tannie Mon kom uitasem aangehardloop, sit haar arm om my skouers en help my terug motor toe.

Trish vat die inkopiesak uit my hand.

“Laat ek dit dra. Hy was seker agter jou handsak aan.”

Heelpad huis toe kyk ek met ’n wild kloppende hart deur die agterruit. My oë fynkam die motors agter en langs ons vir die skraal, ongeskeerde gesig met die broeiende swart oë en die swaar ooglede, en die donkerbruin hare wat onder die pet uitgekruip het.

lusmakers