Elf dae in Oxford

Elf dae in Oxford

Elizabeth Wasserman
Tafelberg

Sy knyp haar oë styf toe. Die beeld is steeds vasgevang op haar retina: die wit konyn se poot wat om die hoek verdwyn.

Sy moet hom volg, maar voor haar loop die nou stegie dood in ’n ander een.

Links of regs?

“Enige pad sal jou iewers neem. Dit hang net af waarheen jy op pad is.”

Dis mos wat die kat gesê het – of was dit die Hoedemaker? Sy kan nie mooi onthou nie. Haar gedagtes voel swaar, asof daar ’n warm lap om haar brein gedraai is. Sy kyk af na haar skoene op die keistene. Blou skoene – gemaak uit sagte seemsleer, met ’n silwer gespe aan die buitekant van elke voet. Sy trap versigtig en probeer om nie ’n geluid te maak nie.

Sy kyk op. Tussen die hoë klipmure van die geboue, oud soos die storie waarin sy haar bevind, daal swaar grys wolke af in slierte mis tot tussen die blombakke op die vensterbanke. Malvas gloei in spatsels rooi teen die grys. Die blomme lyk of  ’n onaardse lig hulle omhul en die sneeuvlokkies smelt sodra dit daarop val.

Die keuse sypel tot in haar murg.

Waar is sy?

Waar moet sy heen?

lusmakers