Almal dink dis oor ‘n hoender wat ek vir Drikus bloedneus geslaan het, maar dis nie regtig waar nie. Klarabel was nou wel een van my beste leghorns, maar ek’s nie die soort ou wat sommer aan mense slaan nie. Selfs nie oor ‘n hen wat met die vorige Bloemfomtein-skou ‘n derde prys gekry het nie.
My naam is Martin Antonio retief. Ek is dertien jaar, elf maande en twaalf dae oud. My ma noem my Martin, maar almal by die skool noem my Hoender. Selfs my suster en oom Hendrik noem my so.
My pa is dood toe ek elf jaar, drie maande en ses dae oud was. Hy was 43 jaar, sewe maande en twee dae oud. Langs hom op die sitplek was ‘n gevriesde snoek, want my ma het gevra hy moet by Pick n Pay stilhou op pad terug van die werk af en vir ons ‘n snoek vir aandete saambring. Die lorrie wat voor hom ingedraai het, het ‘n vrag met 30 nuwe Mecer-rekenaars gehad. Die rekenaars was oppad na ‘n skool in ‘n arm woonbuurt. Al die rekenaars is in die botsing vernietig en die verkeer in Nelson Mandelarylaan is vir meer as ‘n halfuur tot stilstand geruk. Ek weet dit, want dit is wat in die koerant gestaan het. Ek weet nie of daardie arm kinders toe ooit nuwe rekenaars gekry het nie. My pa is sewe dae later begrawe, op ‘n Dinsdag. Daar was 62 mense op ssy begrafnis (as jy nie die dominee en die mense van Doves-begrafnisdienste bytel nie).
Ek hou daarvan om dinge te tel. Maar eintlik was ek besig om te vertel van Drikus.