“Nee, asseblief, moenie!” kreun Lucas Niemand. Hy stik en die spasmas ruk deur hom. “Bly weg! Nee!” ‘n Frons plooi op sy voorkop. Sy oë is styf toegdruk. Snymerke lê oor sy vuil gesig, kaal bolyf en bene. Op sy ken en by sy keel is persblou kneusplekke. “Asseblief!” Sy mond bly ooop toe hy dit sê. Daar is rou skaafmerke en klam bloed op die sagte vleis binne sy lippe.
Hy is vasgevang in ‘n droom.
Dis ook hoe alles vir hom begin het: met ‘n droom van ‘n ruimteskip. Hoe lank gelede nou al?
Dis moeilik vir hom om te sê. Hy het tred verloor met die tyd.
Maar meer nog, hy het tred verloor met homself.
Die Lucas Niemand wat nou hier lê – in die veld, ‘n paar kilometer weg van die geheimsinnige dorpie Nova – is nie meer dieselfde Lucas wat daardie eerste drome gehad het nie.
Die lang gras buig oor Lucas se seer, inmekaargetrekte lyf. Dit ruis saggies. Bo die veld dreun die donderweer.
Water – dit is wat hy nou nodig het. Sy tong skuur oor sy lippe en sy oë vertrek weer van pyn toe dit ‘n seerplek raak.
Lucas Niemand, sê ‘n stem binne-in sy kop. Lucas!
Lucas reageer nie. Hy lê net.
Lucas, Staan op!
Hy skud sy kop effens en hoor die grond in oorskulp ritsel.
‘n Grys wese met ‘n klein lyf, groot kop en groot swart oë buk by hom.
Lucas wil instinktief wegruk van die aanraking aan sy skouer.
“Nee, asseblief nie! Ek kan nie meer nie!” sê hy sag.
Lucas, jy is veilig. Jy is nie meer in die donker wesens se skip nie, sê die grys ruimtewese. Staan op, jy moet huistoe gaan. Die spel het begin. Jy is deel daarvan. Maar moenie bang wees nie. Ons is hier om jou te help.