Liewe Tannie Kameel
Ek gaan dit nou maar sê: ek was gevaarlik woedend toe Tannie my maak boekhou het van die kwaad, soos my ouma Jansie altyd gesê het. Skuins bedinges soos ‘n handgranaat waarvan die pennetjie klaar uitgetrek was ‘n Tydbom met nog net tien sekondes op die klok. Die tipe outjie wat deesdae moeilik verby wagte kom om op ‘n vliegtuig te klim.
So eerstens wil ek askies sê dat ek Tannie soveel grys hare gegee het met my kwaadgeit. Maar as dit nie was vir my kort fuse en die hare op Tannie se tande nie, het hierdie joernaal nie bestaan nie. So dankie dat Tannie elke week opgecheck het dat ek die skryfwerk byhou. En dankie dat Tannie my maak sien het ek moet dit nie verbrand nie.
Ek is nie seker of ek rêrig eendag ‘n dokter wil word nie – ek kom agter mond-tot-mond op vreemde mense is nie my ding nie. Daar’s buitendien hééltemal te veel ander goed wat my ook laat gril. Maar ten minste is al die bewyse opgeskryf dat ek ‘n dokter sou kon word as ek wou.
Tweedens: as ek dalk van plan verander en wel ‘n dokter word, sal ek altyd vir Tannie afslag gee waneer Tannie oud is. Dokters is duur en ek weet oumense kan dit nie altyd bekostig nie. Maar ek sal sorg dat Tannie niks sulke worries het nie – bel net my ontvangsdame vir ‘n afspraak en kom sien my.
Derdens wil ek graag vir Tannie iets gee om koebaai te sê. Al goeie present waaraan ek kan dink, is my joernaal. Ek weet tannie sal dit oppas. Gebruik dit soos ‘n handboek of iets. Daar waar Tannie nou gaan werk, sal daar sekerlik outjies soos ek wees wat ook bietjie vies deur die lewe gaan. Laat hulle maar my storie lees en daaruit leer.
So nou groet ek maar. Ek hoop rêrig nie ek was die laaste strooitjie op die kameel se rug nie. Met ander woorde, ek hoop rêrig Tannie trek oor Tannie se man werk in die Kaap gekry het, nie omdat ek Tannie se battery laat afloop het nie.
Dankie vir alles en groete vir die Kaap.
Geteken
Dr. (Ha-Ha) Elton April.