Vandag is een van dáárdie dae.
Jy weet, een van daai dae wanneer jy wens jy was iewers op ‘n eksotiese eiland soos Mauritius of Hawaii. Ek kan myself al sien – in ‘n bikini op ‘n spierwit strand, met ‘n groot sonhoed op my kop, uitgestrek op my handdoek terwyl ‘n bruingebrande hunk vir my yskoue drankie aandra . . .
Ek sug. Wie probeer ek flous? Die kans dat jy my ooit in ‘n bikini sal sien, is ongeveer zilch. En in plaas van palmbome en warmgebakte sand, sit ek op die koue vloer van die Hoerskool Bronburg se skoolsaal terwyl dit buite sous.
Nog ‘n Prettige dag in Pretoria.
Die skoolhoof brom onophoudelik oor die lengte van die skoolmeisies se rompies. Rondom my is die meeste leerders reeds aan die slaap of baie naby daaraan. Langs my sit Jana, my vriendin, en WhatsaApp skaamteloos. Ek stamp haar met my elmboog in die ribbes, maar sy waai met haar hand asof ek ‘n lastige vlieg is en hou aan tik.
“Met wie praat jy?” fluister ek en loer oor haar skouer om te sien.
Sy rol haar oë en wys vir my die skerm. Ek sien die naam Vorster en ‘n foto van ‘n blondekop wat dink die son hou op skyn as hy gaan sit. Ek trek my neus op ‘n plooi. ‘n Paar rye voor ons sit dieselfde ou met sy blonde kop vooroorgebuig tien teen een ook besig om te WhatsApp. Ek kyk weer na Jana en lig my regterwenkbrou. Sy steek haar tong uit en tik verder.
Johan Vorster is sekerlik die grootste hartebreker in die skool. En ook die ou met die slegste reputasie. Jana het nooit van sulke ouens gehou nie, maar onlangs het sy begin om al hoe meer belangstelling in hierdie een te toon. Om die een of ander eienaardige rede dring hy daarop aan dat mense hom op sy van noem.
“Om nie eers te praat van die afskuwelike sterte wat die jong mans deesdae agteraan hulle koppe het nie,” teem meneer Malan voort. “Daardie sogenaamde mohawks. Die Amerikaanse invloed van die media is besig om ons goeie Afrikaanse skole van alle waardes te dreineer. Dit veroorsaak chaos onder ons leerders.”
Ek onderdruk ‘n kreun. Ons hoof is weer, soos elke Maandagoggend, so vervelig dat dit seer maak. Mohawks! In watter eeu leef die man?
Ek gluur weer na Vorster se agterkop. Betsaan daar nie meer sexy ouens wat nie massiewe ego’s het nie?
Dit kan tog nie so moeilik wees om aantreklik en ordentlik te wees nie. Wat het van die goeie ou Romeo geword – of het daardie spesie al in Shakespeare se tyd van die aardbol verdwyn?